FeaturesInnibos NuusLifestyle

Kom lag ‘n slag oor wat mans dink

Die boodskap aan die gehoor is: Ons almal is basies dieselfde, ons moet net mekaar se punt kan insien.

Feesgangers in die Boma-kuierteater het geskaterlag toe Altus Theart kortliks vertel Hoe ‘n man se kop werk. Die eenmanproduksie gaan oor Bobby wie se meisie, Julie, hom gelos het.

Hy sukkel om te verstaan hoekom; en sy het hom slegs twee weke gegee om uit te vind wat sy regtig wil hê. Altus het by Innibos slegs ‘n uittreksel van die produksie kom opvoer, maar die gehoor het nogtans aan sy lippe gehang.

Bobby soek raad vir sy dilemma en vertel dat hy ‘n hele krat vol boeke soos Dating for Dummies, Men are from Jupiter and Women are from Hell, asook The Male Ego het om te lees. Dit help hom egter niks en hy dink na oor wat die karakters in sy lewe vir hom sou sê. Tydens Vrydagmiddag se vertoning het die Kolonel, Vinnige Freddy en die Fransman hulle verskyning gemaak.

Die Kolonel, ‘n streng, weermagman, sê vir Bobby hy moet eerlik wees, maar nie té eerlik nie.
Hy vertel ook dat daar sekere name is wat jy ‘n vrou nie noem nie, wat hy deur ondervinding uitgevind het.

Volgende raai die Fransman hom aan om cool te wees en om te leer Frans praat. Hy vertel ook dat ‘n man moet luister as ‘n vrou “aan sy hart tap”.

Vinnige Freddy aan die ander kant, vertel dat chicks passie soek. “As jy iets doen, dan moet jy dit goed doen,” raai hy die gehoor aan.

Bobby dink na oor die raad en probeer onthou waarom Julie vir hom kwaad is. Sy gevolgtrekking is dat dit dalk was omdat hy die naam van ‘n beeldskone skoolvriendin kan onthou, maar haar broer se naam vergeet. En dan per ongeluk vir Julie ‘n koue vis noem.

Hy vertel ook dat hy deur die flater van naamvergeet wou kom deur die mompel-dompel-trick te probeer, maar dat dit liederlik misluk het.

Hierdie handige tegniek werk soos volg: hou altyd ‘n vol glas bier in jou hand, wanneer jy iets moet antwoord of sê en jy’t geen idee wat om te doen nie, mompel iets in jou bier in.

Die mense in die geselskap sal glo jy’t iets gesê, maar hulle het dit net nie gehoor nie en iemand sal weldra met die regte antwoord of woord in-chip.

Ronny Capritzi, ‘n roekelose karakter, kom dan te voorskyn. Hy vertel dat hy sy trouvrou ontmoet het en erken dat sy nie perfek is nie. Sy’t die woordeskat van ‘n matroos en kan omtrent ‘n hele gesprek voer deur net een vloekwoord op verskeie maniere te gebruik.

Hulle het egter geleer om hul geheime met mekaar te deel. Hier het die uittreksel gestop en Altus som toe die boodskap op vir die gehoor: “Ons almal is basies dieselfde, ons moet net mekaar se punt kan insien.”

Die produksie is beslis die moeite werd om te sien en sal jou binne minute laat skaterlag. Die gedaantewisseling soos ‘n nuwe karakter die verhoog betree, is puik, aangehelp deur die verskillende kostuums eie aan elk, wat Altus om die beurt aantrek.

Gaan maak vanaand om 18:00 ‘n draai by die Boma-kuierteater, kry ‘n sitplek en ‘n glas wyn en leer hoe ‘n man se kop werk.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button