Ou bekendes sing jou gunstelinge
Van Innibos se gunsteling-sangers was gisteraand op die Standard Bank-verhoog te siene en het die litte lekker losgemaak.

“Mango mango, veselperske. Die ander sit en chappies kou…” – onthou jy dit? Dit moet op een van DJ Ossewa se nuwe albums wees. Die derde aand van Innibos 2014 het met Ossewa se Ons het die gees ja man ja begin en dié aand het met die pragtige Bobby van Jaarsveld se My lewe draai om jou afgesluit.
Nadine het die biertent se litte los gehad en Kurt Darren, die Seerower op droë grond het van ‘n oogklap na ‘n sonbril opgegradeer. Eden kan beslis my Superman Batman Ironman Spiderman wees en Riana Nel se Timbaktu bly ‘n hit!
Kyk! Jy kry nêrens anders drie meer uiteenlopende karakters op een verhoog bymekaar as DJ Ossewa se Leeuboer, meneer awesome en ‘n man wat lief vir kruisbande is nie. Alhoewel hulle Stukkie van der Merwe seker om elke hoek en draai sing, bly dié song seker een van my all-time favourites.
Lianie May het saam met Jay bekende liedjies soos Bonnie en Clyde en hul heel nuutste liedjie, Wys my jou naweeklyfie gesing. Die voormalige lid van Eden het die gehoor met gunstelinge soos Twee, Obsessie, Lyf teen lyf en Dis hoe ons rol bederf.
Van die Binnelanders se akteurs, soos Zadie, Pippa, Naomi en Krige was die aand se seremoniemeesters. Nadine het heelwat van Niel Diamond se treffers, All night long, Words en River Deep op haar lysie gehad.
Kurt Darren het met ‘n sonbril en jeans verskyn. Alhoewel Kurt onlangs ‘n nuwe album uitgebring het, het hy liedjies soos Meisie meisie, Loslappie en Kaptein span die seile wat aanhangers al in hul slaap kan sing, aangebied.
Die kontemporêre Afrikaanse country-duo, Heuning het een van hul gunsteling treffers, Heuningbekkie van hul nuwe album waaraan hulle tans werk, gesing en die gehoor ‘n bietjie woema gegee.
Die ysige aand is deur die blondekop Bobby van Jaarsveld afgesluit. Hy het ‘n paar vroue se knieë lam gemaak met gunstelinge soos Ek’s mal oor jou, Net vir jou, Wat geld nie kan koop nie en Totaal finaal gesing. Bobby het ‘n treffer van sy nuwe album, wat hy hoop om aan die einde van September vry te stel, My alles gesing.
Sien jou vanaand saam met Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Laurika Rauch en 15 ander kunstenaars om 18:00.
