FeaturesInnibos NuusLifestyle

Skouspel in buitelug om varktastiese fees te kroon

Vanaand se afsluitingskonsert mag net die eerste buitelug skouspel op plaaslike bodem wees.

Feesgangers is in vir ‘n extravaganza by die JacarandaFM-afsluitingskonsert. Geen meer van die gewone grootste-name-in-Afrikaanse-musiek kry elk ‘n halfuur op die verhoog nie. Nee.

Vanjaar is Barry Pretorius en Deedee van der Hoven aan die stuur van sake as vervaardiger en musiekregisseur onderskeidelik. Hulle is van die Ghoema-toekennings en Afrikaans is Groot-faam en ‘n skouspel is presies waarna almal vanaand kan uitsien.

“Ons wil hê mense moet daar wees met ‘n drankie in die hand en ‘n gevoel kry van die teater sonder om in een te wees,” het Pretorius verduidelik van die kordaatstuk waaraan hulle al drie maande beplan. “Ons neem die bestaande formule en voeg magic elemente by.”

Feesgangers kan uitsien na nie minder nie as 18 van hul gunstelingsangers op een verhoog. Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Bok van Blerk, Jak de Priester, Laurika Rauch, Die Heuwels Fantasties, noem maar op.

Hulle gaan alleen sing, hulle gaan saam met mekaar sing, en hulle gaan Koos Kombuis sing, want hy word vanjaar by die fees vereer.

Pretorius sê Innibos is dié fees om by te wees. Dit skryf hy toe juis aan die organiseerders se toegewydheid om elke jaar dinge op ‘n nuwe manier te benader. “Dit is fun om bietjie weg te beweeg van die tradisionele konsert.”

Pretorius het die konsert ontwerp en die basiese orkes bymekaar gekry (Rikus Nel, Danny Smoke, Denny Lalouette, Matthys Maree, Susan Mouton, Lizelle le Roux en David Klassen) saam met wie hy gewoonlik werk sáám met 20 strykers van Hoërskool Waterkloof.

Feesgangers kan dus uitsien na die grootste nuutste Afrikaanse, ouer en internasionale treffers, en selfs klassieke nommers. Pretorius het erken hy is opgewonde en op sy senuwees omdat hulle, uit die aard van die saak, nie een vol kleedrepetisie sal hê voor die vertoning op die Standard Bank-verhoog nie.

Moet dit nie misloop nie. Dit begin om 18:00.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button