Skrywer en sanger liries oor die liefde
Dié program het gewentel rondom die tema “liefde” en die vraag of ons werklik daarsonder kan bestaan.
Storie en Lied – Als de liefde niet bestond, met Natascha C, Annemarie van der Walt en Henry-John Williams.
Dié program het gewentel rondom die tema “liefde” en die vraag of ons werklik daarsonder kan bestaan. Die styl van die kabaret gerigte aanbieding was merendeels Europees, met die Franse invloed daarop dominerend.
My eerste kennismaking met Natascha C as sanger en kunstenaar by 2013 se Innibos, was ‘n ontdekking wat verras het – veral vanweë haar merendeels hartstogtelike oorgawe aan haar kuns. Dat sy dan ook met die Nederlandse lied haar gehore se harte geopen het na dié “platte land” se kleinkuns, is iets wat deesdae as ‘n seldsame ervaring beskou kan word.
In vanjaar se program het sy ook musiek van Toon Hermans, Liesbeth List en Jacques Brel ingesluit, asook ons eie Amanda Strydom se immer ontroerende Ek loop die pad. Sonder Brel verloor eietydse kabaretprogramme nog steeds skynbaar hul regstreekse lewenslyn na die bron. Natascha C se voordrag in haar moedertaal is totaal idiomaties, haar uitspraak uiters beskaafd te midde van haar intense vertolkings.
Sy en haar pianis Henry-John Williams het ’n uitstekende rapport. Die graad van ryk gekontrasteerde en genuanseerde interpretasies van liedere wat diepe gevoelens en soms selfs radelose versugtinge na vore bring, is met die beste smaak moontlik oor die voetligte gebring.
Veral die lied met die titel of refrein “Nu vraag ik jouw” was iets wat diep in die hart gegryp het. Dit sou gaaf gewees het as die publiek met en enkelvel-blaadjie beter ingelig sou kon word oor die lys van liedere wat uitgevoer is. Helaas, soos verlede jaar, was die klankversterking oordadig, met ‘n klawerbord wat soms die stem gedomnineer het.
Uittreksels uit Annemarie van der Walt se rubrieke en die enkele gesprekke tussen haar en Natascha C oor aspekte van die liefde, het die program as geheel ryklik gekomplementeer. As skrywer bewys Van der Walt dat ‘n skerp waarneming een van die belangrikste sleutels is tot ‘n ryp skrywerslewe – al het sy daarna verwys dat Hemingway eens gesê het: “So many stories I’ve lost between the sheets…”
Veral haar verhaal oor haar reisgenoot op ‘n bus wat vertel het van haar eertydse liefde vir ‘n man in Lourenco Marques, was aandoenlik. So ook al die ander beelde in haar prosa, die satiriese waarnemings rondom die volwassewording van haar dogters en selfs ook ‘n verwysing na die feit dat die liefde sonder die lyflike oorleefbaar skyn te wees.
