FeaturesInnibos NuusLifestyle

Stof tot nadenke by huishoudelike digkunsgesprek

Die antieke Chinese se raad, soos omskryf in Afrikaans is, losweg: 'Die geveg is verloor, beperk die skade en onttrek waardig'.

‘n Arbeidsosioloog en legendariese rockmusikant se digkunsbespreking het gistermiddag voorwaar vir ‘n ander tipe boekgesprek gesorg. Stoep se kuiertuin was volgepak vir Koos Kombuis en Andries Bezuidenhout se geselsie.

Laasgenoemde is natuurlik ook ‘n musikant, en beide is digters. Dit was juis hul onderskeie jongste bundels wat by Boeke OppiSTOEP onder die loep geneem is. Bezuidenhout se bundel, Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle sluit goed aan by Kombuis, wat al ‘n huishoudelike naam is en selfs as huishoudelike toestel kan kwalifiseer.

Kombuis het weer met i-Tjieng, ‘n GPS vir verdwaalde siele dié klassieke Chinese boek van verandering in Afrikaans vertaal.

“Ek lees dit al seker vir 30 jaar en het ‘n gevoel vir die lyne ontwikkel. Ek het toe my gevoel daarvan in los Afrikaans vertaal,” het hy verduidelik. Dit kan as ‘n padkaart gebruik word met letters en nommers wat die leser na ‘n stukkie wysheid lei, wat soms vrae kan beantwoord. Soos Bezuidenhout wat so geïrriteerd kan raak met groot karre wat te stadig ry in die vinnige baan.

Die antieke Chinese, soos omskryf in Afrikaans se raad? Losweg, “Die geveg is verloor, beperk die skade en onttrek waardig”.

Bezuidenhout het sy eie Churchgoing gelees (‘n Afrikaanse gedig) wat in alledaagse taal uitbeeld hoe die kerke leegloop.

Hy werk baie hard daaraan dat die leser nie in sy werk sal bespeur hoe harde werk dit was om die losrym- gedigte te pen nie.

Annemarie van der Walt as gespreksleier het dit goed behartig en buiten die pittighede en ligte terg het die gesprek ‘n mens tog tot nadenke geroep. Afrikaans, die planeet se toekoms, nuuswese, digkuns self, geloof, gesonde verstand, die “louter snert” wat Kombuis in sy jongdae geskryf het, klein dorpsheid en toestelle is alles deur die gesprek gedek.

Soos Bezuidenhout verduidelik oor sy werk wat hy geskryf het terwyl hy navorsing by onder andere yskasmakers gedoen het: “Intieme ruimtes, goed waaroor ons soms skaam is – jy sit byvoorbeeld in die kombuis met jou pajamas en lyk nie op jou beste nie – is so baie, baie gekoppel aan die wêreld daarbuite (deur die toestelle daarbinne).”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button