Volg die reënboogklanke van die eenvrou-orkes
Jy sal verstom staan om te sien hoe al hierdie melodieuse klanke deur 'n eenvrou-orkes opgeklingel word.

Sy klingel, sy bons, sy fluit, sy sing, sy hop, klop, skop, draai en wals – sy is Wiebke Holm-Mikula en sy het haar eie eenvrou-orkes. Met ‘n boepensklavier, basdrom, ‘n kalbas, toeters, tamboeryn, klokkies, ‘n kazo en ‘n neusfluit marsjeer sy die feesterrein deur.
Jy sal verstom staan om te sien hoe al hierdie melodieuse klanke deur ‘n eenvrou-orkes opgeklingel word.
Haar reënboogorkes het begin toe haar ouers iets bont met lewenslus gesoek het vir hul 50-jaar huweliksherdenking.
Sy is ‘n vrylopende kunstenaar wat beteken dat jy haar selde op dieselfde plek sal sien, en beskryf haarself as tydloos.
Vanjaar is haar derde Innibos en dit bly steeds vir haar net so lekker soos haar eerste een. Sy word deur feesgangers as moedig en baie oorspronklik beskryf.
Kyk uit vir Wiebke op die feesterrein, jy kan haar nie mis nie. Sy drentel daagliks deur die stalletjies vanaf 11:00 en dan weer in die middag. “Volg net die geraas,” sê sy.
