Koos en Laurika onverbeterlik
Die beloofde skouspel was uit die boonste rakke en boonop iets vir die geskiedenisboeke.
Saterdagaand se buitelugskouspel het aan Koos Kombuis en Laurika Rauch behoort. Jacaranda FM se beloofde skouspel het gerealiseer sonder dat die 18 verhoogkunstenaars saam ‘n volle kleedrepetisie kon hou. Die aanbieding was uit die boonste rakke en boonop iets vir die geskiedenisboeke.
Dit was baie gepas dat hierdie eerste buitelugskouspel voorwaar die hoogtepunt van ‘n varkenlekker fees was waar feesgangers iets van alles gekry het: ou en nuwe songs, Afrikaanse treffers en die gewildste internasionale popnommertjies, keurig saamgestel in ‘n potpourri van musikale kleure en geure – ‘n regte, egte ekstravaganza!
Soos die seremoniemeester van die radiostasie opgemerk het, was daar meer mense by hierdie konsert as wat ‘n paar weke gelede die Springboktoets in Mbombela Stadion bygewoon het. Die kuierveld voor die Standard Bank-hoofverhoog het uit sy nate gebars. Feesgangers met goeie sitplekke in die biertente rondom die konsert het aan Laevelder verduidelik dat hulle al sedert 12:00 daar was om plek te hou. En was dit nie die moeite werd nie! Selfs Twitter het ge-jam, soos derduidende mense deurgaans hul ervarings op die sosiale netwerk wou deel.
Die Heuwels Fantasties het die bal aan die rol gesit met “Beloofde Land”, ‘n deurlopende tema van die aand wat ook plek gekry het in Bok van Blerk se nuwe “Land van Melk en Heuning” en Steve Hofmeyr wat “Die Stem” gesing het (sien storie elders). ‘n Orkes wat nie minder nie as 20 strykers ingesluit het en spesiale beligtingseffekte het tot ‘n onvergeetlike kaleidoskoop van klank en kleur bygedra. Dit was ‘n belewenis.
Maar dit was Koos se aand. Hy is vanjaar deur die fees vir sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse kunste vereer, en ‘n mens kan skaars aan ‘n beter kandidaat vir só ‘n eer dink. Ander kunstenaars het die keurspel van sy, sekerlik al classic rock-liedjies, soos “Bicycle sonder ‘n slot” en “Johnny is nie dood nie” gesing.
Ná hy sy toekenning in ontvangs geneem het, het hy natuurlik “Lisa se klavier” gesing. Sy vriendin Laurika wat nie gewoonlik feesskouspele doen nie, het by hom aangelsuit om hierdie lied uit Koos se pen, en wat miskien dié hoofdiva van Afrikaanse musiek se grootste treffer is, saam af te sluit. Die gehoor – of sal ons om akkuraatheidshalwe sê, skare – is tot hoendervleis en trane pink meegevoer.
Laurika het ook “Hot Gates” gesing, in pas met die skouspel se doel om toeskouers nie net die jongste grootste liedjies nie maar ook ouer liedere, en diep, mooi goed wat nie noodwendig treffers was nie, te bied. Soos een feesganger dit gestel het, dit laat ‘n mens diep terugdink.
Jay, Riana Nel, Jak de Priester, Andriette Norman en Jody Williams het ook hul treffers gesing.
Twee ander kolosse, Juanita du Plessis en Steve, het ook saamgesing. Sy het met ‘n keurspel van haar grootste treffers waaronder “Skarumba” en “Pataya” vorendag gekom en Steve het van ons bekendste volksliedjies opgedis. Corlea Botha het haar veelsydigheid ten toon gestel met popliedjies, sowel as opera (ook met tenoor Manuel Escorsio) en ‘n Queen-huldeblyk saam met Freddie Mercury-dubbelganger, Joseph Clarke met “Fat bottomed girls” en “Barcelona”.
Die Afrikaanse nostalgie het ook dik geloop toe al die aand se kunstenaars hulle by Laurika op die verhoog geskaar en saam met die gehoor uit volle bors met “Stuur groete aan Mannetjies Roux” afgesluit het.
‘n Mens wonder net of enigiemand sou kon slaap toe hulle huis toe is na hierdie skouspel vir die sintuie wat almal sekerlik nog lank sal bybly.
