Storm bars los oor Steve se Stem
Die sing van die vorige volkslied by Innibos lok gemengde reaksie uit.
Steve Hofmeyr het Saterdagaand “Die Stem” by die afsluitingskonsert vir Innibos gesing. ‘n Klein storm van gemengde menings het toe losgebars oor die betekenis of gepastheid daarvan. ‘n Groter storm is ontkeken onder die gehoor en op sosiale media onder mense wat na die tyd daarvan gehoor het.
Die skouspel is vooraf fyn beplan om weg te beweeg van vorige Saterdagaand-afsluitingskonserte met Barry Pretorius* en Deedee van der Hoven aan die stuur van die eerste buitelug-skouspel op plaaslike bodem. Steve self het op sy Facebook-blad geskryf dat hy ‘n knop in die keel gekry het toe (vanwaar hy gestaan het) 45 000 mense saamgesing het.
“En toe vat ek daai polities-inkorrekte kans en sing “Die Stem”… en 45 000+ mense staan op en sing dit soos een man – uit volle bors. Ekself het swaar gesluk dat niemand daardie lied vergeet het of ooit sal nie. Ek bars van trots. Dankie.”
Die feesbestuur het laat weet Innibos is ‘n kunstefees met ‘n hoofsaaklik Afrikaanse program, maar nie ‘n Afrikanerfees of politieke platform nie.
“Dit was nie deel van die beplande program nie en die organiseerders en regisseur van die aand se konsert was nie bewus daarvan dat Steve dit sou sing nie. (Ons dink in elk geval dit was ‘n besluit wat Steve eers gemaak het toe hy reeds op die verhoog was).
“Ons sou nie noodwendig die sing daarvan as deel van die program goegdgekeur het as ons vooraf daarvan geweet het nie, want ons besef dat daar sensitiwiteit rondom die lied is. Moet dit egter asseblief nie dadelik aan die groot klok hang nie.
“Dit was nie noodwendig ‘n politieke standpunt en ‘n terugverlang na die era voor 1994 nie.
“Dit is ‘n lied waarmee baie Suid-Afrikaners grootgeword het en die woorde in hierdie lied het geen rassistiese of verdeeldheidstrekking nie. Daarom is dit steeds deel van die volkslied. Ons is trots deel van die Nuwe Suid-Afrika.”
Die skrywer Dana Snyman het geskryf: “Sou ek saamgesing het as ek daar was? Ek weet nie. Ek wonder. Dit voel nie vir my reg nie: ‘Die Stem’ op ‘n Saterdagaand. Wat gaan in die agterkamers van onse mense se harte aan? Is ‘n Saterdagaand nie eerder ‘n “Pampoen”-aand nie?”
Die meerderheid mense wat kommentaar gelewer het klink of hulle nie die bohaai verstaan nie.
Teen druktyd het meer as ‘n honderd mense al op Laevelder se Facebook-blad gereageer.
• Pieter Knipschild: Pragtige mooi gedig wat ook voorgedra kan word as ‘n liedjie.
‘n Stukkie kultuur en trots aan ons. Veroorsaak geen geweld of lastering. Gee net so bietjie hoendervleis. Excellent deur Steve! Dit bring net ons kultuur en mense vir so ‘n wyle bymekaar.
• Dewald Nel: Dis ‘n Afrikaanse fees vir Afrikaanse optredes en kultuur. “Die Stem” was die land se volkslied maar is vandag deel van ons erfenis. Niks fout om dit te sing nie.
* Hierdie artikel is reggestel nadat die vorige artikel Barry se van verkeerdelik as Potgieter aangedui het.
