Groter ekwiteit bied meer beskerming aan eienaar
Dit is baie nuttig om ekwiteit in jou huis te hê as jy beplan om dit te verkoop en ‘n ander eiendom te koop.

Met rentekoerse wat nou ‘n opwaartse neiging toon, word huiseienaars weereens aangemoedig om ekwiteit in hul huise te benut om skuld met hoër rentekoerse soos motorfinansiering, kredietkaarte en persoonlike lenings ten volle of gedeeltelik af te betaal.
En dit sou goeie raad wees, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, as die ekonomie sterk was en huispryse vinnig gestyg het. “Maar die ekonomie is egter nou gedemp en die koers waarteen huispryse groei, het reeds die afgelope paar maande begin afneem – en ‘n baie meer konserwatiewe benadering is dus nou aangewese.”
Hy skryf in die jongste uitgawe van die nuusbrief, Property Signposts, dat dit aanloklik mag klink om alle skuld in huislenings te konsolideer, maar verbruikers moet in gedagte hou wat met sulke eienaars gebeur het toe rentekoerse net voor die wêreldwye finansiële krisis in 2008 begin styg het.
“Namate eiendomswaardes weens die krisis getuimel het, was al hoe meer sulke huiseienaars se verbande hoër as die waarde van hul eiendom – en hulle moes geld “inbetaal” toe hul huise wou – of moes – verkoop. Omsigtigheid is dus die wagwoord, al ervaar huispryse op die oomblik nie ‘n insinking nie.”
Nog ‘n goeie rede om nie ekwiteit in jou huis op dié manier te benut nie, sê Everitt, is dat jy korttermyn skuld in langtermynskuld gaan verander – en dit gaan baie dissipline verg om jou maandelikse verbandbetalings genoegsaam te verhoog, sodat jy jou motor of ander skuld binne die aanvanklike drie- tot vyf-jaartermyn afbetaal eerder as oor
10 of 20 jaar.
“Ons het inderdaad al dikwels gesien dat huiseienaars wat dié weg volg, dadelik nuwe korttermyn-skuld aangaan pleks daarvan om enige spaargeld te benut om hul huislening so gou as moontlik af te betaal.”
‘n Derde rede om jou ekwiteit te behou – en dit, waar moontlik verder op te stoot, sê hy, is dat jy dit vir ‘n regte krisis kan nodig kry. “Die meeste mense kan deesdae nie juis bekostig om geld te spaar nie en ekwiteit in jou huis kan baie handig te pas kom, as jy skielik voor ‘n mediese of ander krisis te staan kom.”
Vierdens, sê Everitt, is dit baie nuttig om ekwiteit in jou huis te hê as jy beplan om dit te verkoop en ‘n ander eiendom te koop. “Dit gaan baie makliker wees om ‘n lening vir jou nuwe huis te bekom as jy die ekwiteit in jou bestaande eiendom as ‘n stewige deposito kan benut. ‘n Verdere voordeel is dat hoe groter jou deposito, hoe laer jou maandelikse betalings op die nuwe lening sal wees, en in die lig van stygende rentekoerse, is dit beslis iets om in gedagte te hou.
“En dit bring ons by die laaste rede om nou jou ekwiteit te behou, en dit is dat jy die moontlikheid in gedagte moet hou dat rentekoerse vinniger as wat verwag word kan styg. Groter ekwiteit in jou huis (en dus ‘n kleiner bedrag aan uitstaande kapitaal op jou verband) bied ‘n mate van beskerming teen sulke stygings en verminder die risiko dat jy jou huis kan verloor omdat jy nie die maandelikse verbandbetalings kan bybring nie.”
