MBOMBELA- Inwoners van Herfsakker-ouetehuis het deesdae ‘n huppel in hul stap te danke aan hul weeklikse dansklasse met Wynand Maré.
Elke Maandagoggend kom sowat 25 bejaardes in die eetkamer van Herfsakker bymekaar vir ‘n stukkie samba, ramba, tja-tja en tango. “Party van hulle kannie eers loop nie, maar hulle doen hulle tja-tja’tjie! Dit is goeie fisiese en geestelike oefening. Party van hulle beweeg nou hulle bene waar hulle voorheen gedink het hulle sal nooit kan nie.”
Dié gemeenskapsprojek het in Julie vanjaar begin en moes oorspronklik net vir ‘n maand aanhou. “Dié klomp het so baie van die klas gehou dat dit nou maar sal aangaan tot hulle my wegjaag. Ek is baie lief vir ou mensies en ek wil graag iets vir my gemeenskap doen,” sê Maré. “Die gevoel wat ek kry as iemand vir my sê ‘daai ou tannie’tjie glimlag nóóít nie, en vandag skaterlag sy,’ is prysloos en maak elke les die moeite werd.”
Een van Herman se studente, Sue Neuhoff, is 97 jaar oud en sukkel effens om die vinnige treë te bemeester, maar sy sit sommer in haar stoel en tel die tango af. “Al kan ek nie al die bewegings doen nie, probeer ek al die klasse bywoon.”
Dans is al lewenslank in Wynand ingeburger. Hy het in 1998 vir drie jaar in verskeie state in Amerika klasgegee en instrukteurs afgerig hoe om af te rig. en het in 2002 ‘n Guinness-wêreldrekord vir die langste aaneenlopende Latyns-Amerikaanse dans, verower. Hulle was ‘n groep van 52 dansers, waarvan 10 die taak voltooi het, wat vir meer as 42 ure gedans het.
Wynand en sy vrou Ilse maak die musiekgroep Havanna, “lewende musiek met passie”, uit. Die egpaar het die groep in Desember begin en het al vir Richard Branson se gesin op Oujaarsaand vermaak. Hulle het ‘n dansateljee op Bardolino-landgoed net buite die dorp op die Barberton-pad en bied weekliks dansklasse aan.
Ilse is die sanger, klavier- én baskitaarspeler in die vennootskap en gee self musiekklasse. Wynand behartig die dromme. Dié Latyns-Amerikaans- en jazz-groep kan vir funksies bespreek word.
