Ekonomies bemagtigde kopers neem mark oor
Eerste huiskopers wat ekonomies bemagtig is neem nou vinnig voorraad op van klein en middelgrootte huise in Mbombela.
“Voltitelhuise in die mark teen pryse van tussen R800 000 en R1,2m raak nou skaars weens die skerp toename in kopers wat die mark vanjaar betree het,” sê Ramona Grimbeek, hoofagent van die plaaslike Chas Everitt International-eiendomsagentskap.”
Werknemers wat onlangs ekonomies bemagtig is, kan nou huise van hul eie bekostig en ‘n aansienlike persentasie van sulke kopers verhuis nou uit landelike gebiede om nader aan hul werksplekke in die stad te woon.
“Sterk vraag en die feit dat baie min nuwe woonontwikkelings vanjaar vrygestel is, het daartoe gelei dat pryse met sowat 6,5 persent gestyg het,”
sê sy.
Sy meen dat daar nou ‘n paar nuwe woonontwikkelings in aanbou is, soos Elawini, Drumrock, 1 on Baker, The Rest en OppiKoppi, wat beloof om druk op voorraad effens te verlig, maar wat waarskynlik nie genoeg gaan wees om ‘n ewewig tussen vraag en aanbod te bewerkstellig nie.
Grimbeek voeg by dat klein deeltiteleenhede, soos eenmanwoonstelle of woonstelle met een slaapkamer, hoofsaaklik deur jong paartjies of ongetroude jongmense geteiken word.
Sulke eenhede, teen pryse van tussen R450 000 en R699 000, is gewoonlik binne die begroting van jong kopers en bied hulle dus die geleentheid om die mark te betree.
“Pryse van effens groter eenhede van tussen 80m² en140m² wissel tussen R700 000 en R900 000 en dié prysvlak is steeds binne bereik van jong kopers met ‘n permanente aanstelling en ‘n gesonde kredietrekord,” verduidelik Grimbeek.
Alhoewel die meeste transaksies nou in die laer prysklasse plaasvind, beteken dit nie noodwendig dat verbande meer vrylik beskikbaar is nie.
“Banke pas maatreëls rakende bekostigbaarheid steeds baie streng toe en die feit dat salarisse tipies stadiger as lewenskoste styg dra daartoe by dat baie voornemende kopers in die laer inkomste groepe geen ander keuse het as om verblyf te huur nie.
“Gevolglik word eenhede met huurgeld van R8000 tot R10 000 per maand baie vinnig opgeneem deur huurders in die ouderdomsgroep van tussen 25 en 34 jaar en vraag in dié sektor van die mark beteken dat daar uitstekende geleenthede vir beleggers is wat beoog om eenhede te verhuur.
