Die buite-egtelike oupa gaan feesgangers laat skaterlag!
Onnutsige kinkels en komieklike draaie sal die lagspiere van oud en jonk prikkel.
MBOMBELA – Feesgangers gaan lekker lag wanneer Die Buite-egtelike Oupa tussen 1 en 4 Julie vir die eerste keer hier by ons opgevoer word. Hierdie toneelstuk is ‘n heerlike gesinskomedie met Nico Luwes as skrywer/regisseur.




Die stuk spog met bekende professionele spelers soos Johann Nel (2013 Fiësta-finalis vir Putsonderwater), Hennie Jacobs (Diederick in 7de Laan), Lindy-Lee Kleynhans, Hendrik Cronje (7de Laan), Anika du Toit (Villa Rosa) en CW Laten. Hierdie komedie het uitverkoop by Vryfees 2015 en was een van die fees se top 5 produksies. Die fees het uitverkoop met ekstra vertonings in 2014.
Hierdie skreeusnaakse gesinskomedie handel oor ‘n voorvryer-tandarts en ’n goeddood-dokter wat vrou soek. Daar is ook ‘n ’n nie-so-slim-brunetjie wat desperaat ’n man (dié moet tog net ‘n dokter wees) soek en die slimste blondine wat net een keer nie slim genoeg was nie! ‘n Bonsmara-bulteler Oupa met die behoefte om Oupa te word – jy het reg gelees – word by die resep gevoeg. Die uiteinde van die brousel is hope pret met Die buite-egtelike Oupa!
Onnutsige kinkels en komieklike draaie sal die lagspiere van oud en jonk prikkel. Dis ‘n toneelstuk vir die hele gesin! Die dubbelsinnige woordspelings, benoude krisissituasies waarin die voorvryertandarts hom bevind en veral ou Janwyn, sy pa, sorg vir heerlike skoon pret. Kritici het het Louwes al telemale geprys vir sy vermoë om skoon, skreeusnaakse humor op die planke te bring om ‘n smaakvolle manier – iets wat as ‘n kuns beskou word.
Kom geniet die skerp komedie by 2015 se Innibos. Die produksie sal op Woensdag 1 Julie om 10:00, Vrydag 3 Julie om 19:00 en Saterdag, 4 Julie om 09:00 in Nelspruit Laerskool se skoolsaal te siene wees.
