FeaturesInnibos NuusLifestyle

Laurika en Elvis Blue gaan harte steel tydens Innibos

Hart en See met Laurika Rauch en Elvis Blue was 'n topverkoper op talle feeste.

MBOMBELA – Musiek is ‘n hartservaring wat die golwe van die siel kan laat skommel, maar ook ‘n vrede kan bring waarin jy jouself glashelder sien weerkaats. So ‘n onvergeetlike musiekervaring wag vir elkeen wat Hart en See met Laurika Rauch en Elvis Blue te sien kry.

Musiekkenners is gaande oor die produksie wat vanjaar by Innibos te sien is. ‘n Kykie na die musici agter die produksie laat enige voornemende feesganger sommer opgewonde voel. Hart en See gaan hartsnare roer en die golwe van die siel se maalkolke laat draai!

Laurika Rauch se albums het al tientalle goue en dubbel-platina statusse bereik. Elvis het sedert sy Idols-triomf in 2010 meer as 100 000 albums verkoop, agt top-10 radio solo’s en meer as 500 konserte op sy kerfstok. Die musici agter dié produksie spog reeds met ‘n KANNA en Fiësta-nominasie, en sal binnekort nog ‘n rits Innibos-vertonings by hul reeds indrukwekkende lysie kan voeg. Die bekroonde Deon Opperman behartig die regie.

Die musiekregisseur, net so gevier in haar bedryf, is Janine Neethling. Afrikaanse musieklegende Laurika Rauch sing saam met die gewilde Elvis Blue. Hulle word begelei deur gesoute instrumentaliste op kitaar, baskitaar, tromme en ‘n saksofoon.

Laurika Rauch en Elvis Blue se verskille en raakpunte manifesteer in Hart en See op ‘n gevierde manier. Beide se musikale talent word in die kollig geplaas en hulle komplimenteer mekaar op ‘n buitengewone wyse. Die vertoning roer met ou bekende treffers, nuwe melodieë, solo’s en duette.

Verwerkings vertoon die musici daaragter se vaardigheid en manjifieke regie dra dit op ‘n ongekende wyse oor. Dit is ‘n inspirerende vermenging van talent wat gehore sal laat getuig dat musiek werklik ‘n hartservaring is.

Hart en See sal tydens die Innibos-kunstefees op Donderdag 2 Julie om 10:00; Vrydag 3 Julie om 15:00; Saterdag 4 Julie om 10:00 by Nelspruit Hoërskool se ouditorium vertoon. Kaartjies is vanaf 18 Mei by Computicket beskikbaar. Die Innibos-produksieprogram sal begin Mei op die web beskikbaar wees.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button