Elsie se nommers – Resensie deur Paul Boekkooi
Wie op dees aarde kan ooit ‘n beter voorstelling van ‘n outobiografiese eenpersoonstuk lewer as die mens wat dit self geskryf het? As sy naam dan toevallig ook nog Gys de Villiers is, dan bly daar beslis g’n ander aanspraakmakers oor nie.
Elsie se nommers, deur Gys en Jaci de Villiers
Regie: Jaci de Villiers
Met Gys de Villiers
Wie op dees aarde kan ooit ‘n beter voorstelling van ‘n outobiografiese eenpersoonstuk lewer as die mens wat dit self geskryf het? As sy naam dan toevallig ook nog Gys de Villiers is, dan bly daar beslis g’n ander aanspraakmakers oor nie.
Elsie se nommers is gepen deur hom en sy wederhelfte, Jaci, wat hom ook gedril het om multi-funksioneel met alles wat hy áán en ín hom het, om te gaan. En voor ‘n mens dit uit die oog verloor: Die De Villiers twee-man/vrou-skap het ‘n derde persoon toegelaat om hul artistieke produk te verryk: die choreograaf Mirenka Cechova.
Die enigste kritiek wat ‘n mens op die produk as geheel kan hê, is dat die verhaal nie altyd geïntegreerd genoeg is om jou van die een faset daarvan na ‘n ander te lei nie. Dit word wel tereg min of meer chronologies verwoord en uitgespeel, terwyl wat eersgenoemde betref, Gys en Jaci se skryfwerk die beeldende gehalte besit wat van teatergangers mede-reisigers maak op hierdie verbeeldingryke lewensavontuur.
Elsie was die De Villiers gesin se huisbediende wat ‘n groot invloed op Gys se jong lewe gehad het. “Sy’s swart, maar haar glimlag is wit,” sê hy op een plek. Sy het hom aan haar voorvaderrituele voorgestel en was gereeld die “bag lady” van die groepie mense wat Fafi, ‘n destyds onwettige dobbelspel gespeel het, maar omdat dit onwettig is, waarskynklik nou nog méér wyd beoefen word.
Die teks is nie net knap geskryf nie, maar roep veral ook baie begrippe op wat in die ou Suid-Afrika alledaags was, maar waarvan die meeste van ons wat selfs deel was van dié tydperk, reeds van vergeet het. Dit fokus selde op die politiek, maar borduur die destydse samelewing in soveel detail dat slegs die politieke implikasies daarvan – en vanselfsprekend ook die naïwiteit wat daarmee saamgegaan het – ligweg uitkristalliseer.
Gys de Villiers se wyd resonerende stem, gesigspel en wakker liggaamstaal is enorme hulpmiddels om ‘n verskeidenheid van karakters wat niemand van ons ooit kon geken het nie, op die verhoog te laat lewe. Dat hy, soos die program noem, spesiaal uit New York teruggekom het om dié vertoning te kom doen, kan net een ding beteken: Hy’t reeds akkute heimwee onder lede…
Uiteindelik is dit hier die ewewig tussen erns en humor, donkerte en lig, rasionaliteit en verbeeldingryke ligsinnigheid wat maak dat Elsie se nommers ‘n ideale bestemming vir teatergangers is wat reeds komedie-, klug- en kuierverhoog-voos is.