Innibos se gratis pendeldiens vervoer jou heen-en-weer in ‘n japtrap
Innibos se Stop-en-Hopbushaltes vertrek vanaf I'langa Mall en Riverside Park se Emnotweni Casino.
Op soek na veilige parkering en ‘n vinnige vervoeroplossing tot by die feesterrein?
Volg jou hart na een van Innibos se Stop-en-Hopbushaltes by I’langa Mall of Riverside Park se Emnotweni Casino. Die fees se immergewilde bussies wag hier vir feesgangers wat tussen 09:30 en 00:00 van Innibos se gratis pendeldiens gebruik wil maak.
Hulle kan verniet by hierdie twee optelpunte parkeer, waarvandaan daar elke 30 minute ‘n bus vertrek. Dieselfde voertuie is ook verantwoordelik daarvoor om mense weer veilig tot by hul motors te vervoer.
Méshack Khumalo is een van die be-stuurders wat passasiers tussen I’langa Mall en die feesterrein vervoer. Méshack vertel dat daar ‘n gesellige atmosfeer op die bussies heers.

Kobus en Sandra Steyn, wat graag van dié diens gebruik maak, stem saam: “Dis ‘n gemaklike, vinnige oplossing en ons maak vanjaar vir die tweede jaar van die diens gebruik,” vertel Kobus. Jannie van der Berg is aan die hoof van die diens. “Ons nooi almal uit om van ons pendeldiens gebruik te maak. Dit begin alles hier in die Stop-en-Hopbussies.”
Vir die feesgangers wat vinnig by produksies wil uitkom, sal TRAC N4 se Bossewaens teen R10 per rit handig te pas kom. Daar is een sentrale op- en aflaaipunt naby Hek 1. Die Bossewaens vertrek 30 minute voor vertonings vanaf Bossewaplein. Ongeveer 20 minute ná elke vertoning neem hulle feesgangers weer terug. Die Bossewa-kitsnommer is 076-428-7221.

