Ontmoet Antjie Krog in lewende lywe
Woorde Innituin bied feesgangers die geleentheid om hulle siele te voed met die krag wat lê in die samevlansing van woord, klank en kuns.
Hierdie jaar se Innibos bied feesgangers die geleentheid om Antjie Krog in lewende lywe te ontmoet en hulle siele te voed met die krag wat lê in die samevlansing van woord, klank en kuns. Woorde Innituin word hierdie jaar vir die eerste keer by die Suikerbossie Teetuin in die Laeveld Botaniese Tuin aangebied.
Poësie is nie beperk tot woordkuns op papier nie. Hierdie kunsvorm word op soveel maniere herleef wat harte roer – dit inspireer musici tot sielvolle toonsettings, word in die hale van ‘n verfkwas oorgedra en vind ‘n lêplek in die hart. Dit vernuwe denke en gee uiting aan emosies wat moeilik verwoord word.
Antjie Krog en Mannini Mokhuto gaan uit twee nuwe digbundels, Mede-wete deur Antjie en A Suitcase of Lifela deur Mannini, voorlees. Antjie gaan gedigte voorlees wat sy uit swart tale vertaal het en Mannini gaan van Antjie se gedigte voorlees. Hulle gaan ook ‘n pryslied vir Mandela doen.

(Foto: pressreader.com)
Gerald Clark gaan getoonsette gedigte van onder andere Antjie Krog sing wat deur Tebu Kukhali in gebaretaal getolk sal word. Poësie-geïnspireerde kunswerke van Ilona Petzer, Annalie Odendaal, Erica Schoeman, Celeste HiggsMariana Zwaan sal uitgestal word.

Antjie sal hierna van haar eie gedigte voordra. Mede-wete is Antjie se eerste bundel in agt jaar en sy is onlangs met die Elisabeth Eybers poësieprys vir hierdie bundel vereer. Mede-wete hanteer temas soos taal, familie, herinneringe en gewete. Antjie se passie vir Suid-Afrika se komplekse geskiedenis en samelewing blyk uit haar werke wat in die bundel vervat is. Sy dig ook oor generasies van gister en die wat nog kom, oudword en afskeid. Krog se omgang met Afrikaans daag ‘n gemarginaliseerde gebruik van Afrikaans uit en spreek verdeling, grondbesit en ander Suid-Afrikaanse kwessies aan met die oogmerk van ‘n verenigde samelewing waarin elkeen kan uitdrukking gee aan sy “volle mensheid”.
Daar sal hoop, inspirasie en rou waarhede wat siele roer in oorvloed wees wanneer Woorde Innituin feesgangers in die Laeveldse bos bekoor.
