FeaturesInnibos NuusLifestyle

Dié twee is gemaak om diep spore te los

Elvis Blue en musieklegende, Laurika Rauch het kragte saamgespan om 'n hartroerende musiekproduksie op die planke te bring wat nog vir lank gehore sal bybly.

Tydens Laurika Rauch en Elvis Blue se gesamentlike produksie, Hart en See, deel Elvis die gehoor mee dat sy paadjie met dié sangeres reeds op sesjarige ouderdom begin het. Die gewilde sanger en liedjieskrywer het destyds twee kasette besit, een van Kylie Minogue, en die ander van tannie Laurika. Laasgenoemde se musiek het egter die toets van tyd geslaag, want haar lirieke het diep in sy siel gaan sit en hom reg deur sy musikale loopbaan geïnspireer.

Sedertdien het baie water in die see geloop, en bevind hy as jong, opkomende musikant homself op die verhoog saam met hierdie doyenne van Afrikaanse musiek. Aanhangers kan dankbaar wees dat hulle kragte saamgespan het, aangesien hulle mekaar in elke aspek aanvul.

Die musikale eenwording is meer as harmoniese samesyn, en selfs nog meer as net ‘n ontroerende ontmoeting van lirieke.

Op die verhoog vind iets plaas wat nie dikwels tydens kontemporêre musiekproduksies gebeur nie – ‘n narratief ontvou wat regisseur Deon Opperman so akkuraat beskryf met die produksietitel, Hart en see.

Sake van die hart word as’t ware ontgin – van liefde gevind, tot liefde verloor. Maar, dit is ook ‘n verhaal waar die spil om die natuur draai.

Dit vat die gehoor op ‘n reis deur Afrika, van Clocolan tot Graaff-Reinet, en van brekfis in Bloemfontein tot die witgekalkte huise van Bloubergstrand. Dit is ‘n vertelling wat insuig en boei, soos die gety van die see. Want, soos Laurika dit beskryf, is die mens se hart en die see tog eintlik een en dieselfde ding – diep, onpeilbaar, misterieus en nostalgies.

Tydens die optrede vermeld Elvis telkens sy bewondering vir haar as musieklegende, en sê dan ook met reg, “Laurika en haar musiek is tydloos”.

Iedereen sal met hom saamstem dat daar deur die jare maar ‘n handjie vol Afrikaanse troebadoere was wat sulke roerende musiek kon skep soos Laurika en haar eggenoot, Christopher Torr. Elvis het egter nou met hierdie produksie sy musikale mondigwording bereik, en sal voortaan self ook ‘n integrale deel van die tydlose Afrikaanse oeuvre word.

Dit is immers ‘n feit wat hy en sy dan met die lirieke eggo: “Ek en jy is gemaak om spore te los.”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button