Innibos verering: Deon Opperman rou en eerlik
Opperman het as't ware die gehoor in sy vertroue geneem.
Deon Opperman het geen bekendstelling nodig nie. Sy bydrae as dramaturg, regisseur en vervaardiger loop hom vooruit en hy spog reeds met twee Hertzog-prystoekennings, asook verskeie ander soos die Vita-toekennings, ‘n Fleur de Cap-dramatoekenning en die Eugéne Marais-literêre prys. Woensdagaand het Innibos Opperman ook vir sy bydrae tot die taal- en teaterwêreld tydens ‘n geleentheid wat deur uitsoekgaste in die bedryf bygewoon is, vereer.
Sy werke is nooit middelmatig nie en omdat hy grense verskuif, maak hy dikwels mense warm onder die kraag en moes al fel kritiek verduur. Vroeër in sy loopbaan is hy gereeld as ‘n angry young man geëtiketteer. Dáároor en talle ander persepies het Opperman tydens die geleentheid in ‘n gemaklike gesprekstyl wat deur die skrywer Kerneels Breytenbach gelei is, effe insig in sy werk en lewe gegee.
Familiedramas is sentraal in die meeste van Deon se werke en van hierdie herinneringe steek kop uit in stukke soos Boesman, my seun, en Bittersoet.
Bittersoet wat vanjaar weer by Innibos op die verhoog is en deur Elsabé Daneel vertolk word, lê hom na aan die hart, juis omdat dit sy eie lewe as aangenome kind uitbeeld. “Ek het nooit romantiese idees gekoester oor hoekom my biologiese ma my laat aannneem het nie,” het hy eerlik met sy gehoor gedeel. Hy sê dit het vir hom sin gemaak dat so iets gebeur wanneer jou omstandighede dit noodsaak. Maar in 2005 het hy sy biologiese ma opgespoor en dus eers die werklike storie van sy aanneming gehoor. “Dit het aansienlik van die storie verskil wat my aanneemma my vertel het.”
Opperman het as’t ware die gehoor in sy vertroue geneem en nadere besonderhede oor sy biologiese familie gedeel.
Hy het later uitgevind dat van die agt kinders, sy biologiese ma vyf weggegee het. Twee is onder meer in ‘n telefoonhokkie in Witbank afgelaai en net daar gelos. Dié twee het in die sorg van ‘n man beland wat hulle jare lank seksueel gemolesteer het. Een van sy sibbe is al aan moord skuldig bevind. In daardie een gesprek met sy biologiese ma het Opperman vir haar net twee goed gesê. “Ek het vir haar dankie gesê dat sy my nie in haar maag doodgemaak het nie en ek het vir haar dankie gesê dat sy my weggegee het, want ek het fantastiese ouers gekry,” en toe het hy die gesprek met ‘n kort “totsiens” afgesny. Om ‘n aangenome kind te wees, glo Opperman het hom tot laat in sy lewe ‘n people pleaser gemaak omdat hy altyd sy bestaan wou “regverdig”. Dit was dus vir hom ekstra spesiaal toe Daneel grepe uit Bittersoet by die geleentheid opgevoer het.
Kerneels wat onder andere die toneelstukke van die Afrika-trio – Donkerland en Hartland en Kruispad – in televisiedramas omskryf het, het Opperman aangepor om meer te vertel oor hoe Donkerland, wat hy reeds in die 90’s geskryf het, sy oorsprong gekry het. Opperman het destyds in ‘n boekwinkel in Los Angeles gewerk en op die boek My Traitor’s Heart afgekom. Hierin was ‘n kort verwysing na sy eie familie wat in Weenen in Natal gewoon het. Dit het die storie vertel van sy oom Pieter Opperman wat ‘n kind by ‘n swart vrou verwek het en wat daartoe gelei het dat die hele famillie uitmekaar-gespat het en in omliggende dorpe in Natal beland het. “Ek het daarna besluit dat ‘n drama geskryf sou moet word met Wilna Snyman in die hoofrol.”
Maande se navorsing het Donkerland, ‘n vyf uur lange verhoogstuk, opgelewer – in twee sessies per dag opgevoer. Hy sê dat ook hierdie prosesse waar jou pennevrug dan deur iemand opgevoer word, sieldodend kan wees. “Soos met die jaar wat Donkerland in Grahamstad gedebuteer het, kan ek nou nog nie na my eie dramas kyk nie,” vertel Opperman. Hy wil heeltyd korrigeer. “Ek dink ek het vyf keer om Grahamstad geloop om myself besig te hou terwyl die stuk op die verhoog was!”
Hy is vol lof vir sy voorgangers waaronder PG du Plessis sy gunsteling is, sê hy: “Dit is soms nodig dat ‘n meester hom verhinder na die hand wat sy meesters gemaak het. PG du Plessis het vir my die beste raad gegee wat ek as dramaturg kon kry. ‘Moenie worry oor tematiese goed nie,’ het hy gewaarsku. ‘Sorg jy net dat elke karakter met goeie rede op en af van die verhoog beweeg.”
Bloedbroers, wat op die Afrika-trilogie volg, sal eersdaags op kykNET te siene wees. Hierdie reeks beeld die land se geskiedenis tussen 1914 en 1948 uit.
Sy nuutste projek lê hom na aan die hart. Dit is die daarstelling van die Afrikaanse Kontemporêre Drama-argiewe, waarmee moderne Afrikaanse dramas op die Internet beskikbaargestel sal word. “Ons wil dit scan en laai. Dit moet wêreldwyd gaan.”
Opperman wil die akademie oortuig dat die elektroniese uitgee van ‘n drama, as “uitgee” in die tradisionele sin van die woord kwalifiseer. Hierdie werke moet in ag geneem word vir pryse soos die Eugéne Marais- en Hertzogprys.
