FeaturesInnibos NuusLifestyle

Jongelinge leer dat wetenskap pret is

Die Witjassies het kinders by Apies Innibos geleer hoe om 'n pragtige lawalampie te maak.

Met olie, water, ‘n paar druppels kleursel en ‘n klomp blinkers is ‘n gewone botteltjie in ‘n betowerende lawalamp omskep. Die Witjassies het kinders met hierdie maklike eksperiment bekoor toe hulle Donderdagmiddag by Apies Innibos gaan kuier het.

Die digtheid van verskeie vloeistowwe is hiermee geïllustreer en die Witjassies het op ‘n praktiese wyse die kinders ‘n wetenskaples gegee.

Die klein-goed was die ene konsentrasie om die regte stappe te volg en het flink vrae oor die verskillende apparate en bestanddele wat gebruik is, beantwoord.

Hulle kon hierna hul lawalamp in ‘n papiersakkie bêre waarop die eksperiment se metodiek ook stap-vir-stap gedruk is.

Hulle was vreeslik in hul noppies met die oulike geskenkie wat hulle self gemaak het en het dit trots aan hul ouers gaan wys.

Die Witjassies is ‘n landswye besigheid wat jong kinders aan wetenskaplike beginsels op ‘n prettige en praktiese manier blootstel.

Heelwat van die kinders was goed bekend met die organisasie en het uitgesien na elke eksperiment wat Witjassie-juffrouens Dalena Kirsten en Jennifer Buitendag gedemonstreer het.

Apies Innibos bied gedurende die fees ‘n wye verskeidenheid vermaak soos David Dee, spotprent-tekenkuns met Ghost en selfs ‘n paar besoeke deur Frikkie die Feesvark. Kinders kan verf, springkasteel spring en nuwe maatjies ontmoet.

Dit bied aan ouers ‘n plekkie waar hul kinders onder toesig kan speel terwyl hulle met geruste harte die feesterrein verken

of produksies gaan kyk.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button