Die geheim van oorlewing lê dalk net in die perfekte burger
'n Vennootskap is op die rotse en Adriaan Burger en Bruwer Dippenaar (Leon Kruger en Waldemar Schultz) se soeke na 'n oplossing het 'n behoorlike laglus by Laerskool Nelspruit gewek.

Net ‘n Chillie Burger en Chips asseblief. Skreeusnaaks? Nee, maar uiters vermaaklik beslis. ‘n Vennootskap is op die rotse en Adriaan Burger en Bruwer Dippenaar (Leon Kruger en Waldemar Schultz) se soeke na ‘n oplossing het ‘n behoorlike laglus by Laerskool Nelspruit gewek.
Hulle lekker burger-joint in Parow, Skyfies en Burger is op die rand van ‘n ineenstorting. Wat kan hulle doen om dit te red?
Adriaan is geboei met die kookprogram, Kokkedoor.
Hy hou daarvan om met nuwe geure en tegnieke te eksperimenteer. Bruwer werk in die restaurantgedeelte en is iemand wat miskien ietwat te veel drink.
Daar word die onbesonne sakebesluit geneem om die deure finaal te sluit. Adriaan is nou behoorlik ontstoke en verdwyn so elke nou en dan rustig van die stel af en gaan haal sy frustrasies op ‘n houtdeur uit.
Die laaste kliënt kom in en bestel ‘n prego-rol. Hulle wil seker maak hy kom terug, “maar hoe gaan hy terugkom as die plek nie meer bestaan nie?” vra Bruwer so ewe.
“Vra vir hom hoe dit proe?” Hy het nog nie ‘n happie gevat nie. “Sê vir hom hy moet,” sê Adriaan. In gebroke Engels sê Bruwer, “The chef said you must take a happy.”
Die kliënt is in sy noppies – soveel so dat hy ‘n pamflet oor die Beste Burger Kompetisie in Piet Retief ontvang. Dat dit die onderneming kan red, is die laaste ding wat by Bruwer opkom. Maar, Adriaan dink heel anders. ‘n Hele R50 000 geborg deur Absa en
R100 000 se bemarkingswaarde by die koerant het sy volle aandag. Hy sê dadelik vir Bruwer hy moet bel en inskryf: “Are you the competition? I am interested in your entry. No, I just want to come right in. Calm down lady, I just want to know how I can enter you.” Hewig ontsteld oorhandig die dame die foon aan ‘n man. Hello sir, are you the comp… o dankie tog.”
Hulle vind uit dat die spertyd aan die einde van die dag is en moet dringend ‘n burger aanmekaar slaan. Adriaan besluit hy gaan dit maak en stel sy beste kookvernuf ten toon – gekaramelliseerde uie, sappige frikkadelle met kumynsade en alles wat lekker is. Hy vra Bruwer vir olie. Hy soek oral en kry dit nêrens. “Waar’s die olie, waar’s die olie… olie… olie… olie?”
“Innie-rak!”
In Irak?? Ek weet daar’s olie in Irak, ek weet daar’s olie in Texas, ek het nie nou tyd vir grappies nie.
“In die rak Bruwer.” Die oues wat nog uit die 80’s dateer, sal saamstem dat dit herinner aan die bekende Cremora-advertensie. So begin die meesterstuk bymekaarkom… en dit moet mooi lyk, “nie soos die hond se gat nie”.
Adriaan begin hom naderhand ook na drank wend. Dié twee stem omtrent oor niks saam nie en Bruwer se onvanpaste grappe help nie met die stresvlakke nie.
Soos wat die alkohol sy tol begin eis, delf hulle bietjie in Bruwer se verlede. Hy vertel van sy mislukte huwelik. “Sewentien jaar… ek weet nie wat gebeur het nie.” “Sy het ‘n ander man gespyker,” sê Adriaan. Hy kuier nou by Wanda by die bandeplek, maar het nog nie verder as ‘n soen met haar gevorder nie. Sy pickup-line – ek het bietjie van ‘n slow puncture man, het jy dalk vir my ‘n pomp?
Terug by die burger. Bruwer besluit dat ‘n burger nie ‘n burger is sonder chilli nie. Hy besluit om sy eie een voor te berei, maar toe die beoordelaar dit kom oplaai, beland die verkeerde burger in sy hande.
Hewig ontsteld probeer Adriaan hom agternasit, maar dis te laat. Daar gaan hulle laaste kans.
“Wat is fout met jou, kan jy nie een ding reg doen nie?”
Adriaan besef dis nie Bruwer se skuld nie, maar sy eie. Hy het self die burgers omgeruil.
En net hier ruil die rolle totaal en al om. Nou het Bruwer die hef in die hand.
Die volgende dag toe albei effe kalmeer, met ‘n effe kopseer, besin hulle wat volgende gaan gebeur. Toe die uitslae kom, sien hulle iemand anders het gewen. Die wenner – byna presies dieselfde resep as dié van Adriaan. Terwyl Bruwer s’n ‘n derde plek en ‘n geweldige goeie resensie ontvang het.
Kort voor lank staan daar ‘n reusetou mense voor die restaurant. En so is hulle back in business, baby. Geen onskuldige pluimvee of verskaffer van rooivleis is in dié toneelstuk beseer nie.





