Editor's choice

Flamink se besoek het mense aan die raai

Hulle het die voël later na dr. Marietjie Malan van Longtom Dierekliniek geneem waar die Birds of Prey Sanctuary in Dullstroom hom by haar kom haal het.

LYDENBURG – Die dorp en omliggende gebied is bekend vir sy natuurskoon en verskeie voëlspesies – sommige ook bedreig – wat hier voorkom.

Niks kon egter me. Marga Kirton wat in Rivierstraat woon, op die baie besondere besoek van ‘n voël van ‘n ander kleur voorberei nie. “Ons het Saterdagmiddag gesit en televisie kyk, toe my seun my roep en vertel dat daar ‘n flamink by die rivier is. Ek het eers gedink hy dik dit aan, maar toe hy daarmee aanhou, het ons gaan ondersoek instel. Sowaar as vet, daar het die voël in ‘n bondeltjie by die rivier gesit.”

Kirton vertel dat hy duidelik verswak was. “Hy het ‘n bietjie gehardloop en probeer vlieg, maar kon nie daarin slaag nie. Ons het hom gevang net voor die honde hom in die hande kon kry.” Haar seun se vriend het die flamink na sy huis geneem en in die bad staangemaak.

Hulle het die voël later na dr. Marietjie Malan van Longtom Dierekliniek geneem waar die Birds of Prey Sanctuary in Dullstroom hom by haar kom haal het.

Volgens Malan is hy die klein pienkflaminkspesie. “Ek weet daar kom flaminke by mere en panne in Chrissiesmeer se omgewing voor, maar dit is meer die grootflamink. Ek kan nie werklik sê of hulle hier voorkom nie. Hierdie een is jongerig. Ek sou sê dat een van twee dinge kon gebeur het: Hy het tydens sy vlug moeg geraak en naby die rivier opgeëindig of iemand het hom hierheen gebring om aan te hou.”

Sy verduidelik dat die kleinflamink nie insekte en paddas soos die groter spesie eet nie. “Die voël eet net mikroörganismes in damme en mere. Dus kan dié soort voël nie eintlik aangehou word nie. Dit is ook hoekom hulle sulke snaakse snawels het.”

Sy verduidelik dat die flamink met sy aankoms baie moeg was, maar na ‘n aand in die hok weer ten volle herstel het. “Dit is regtig die mooiste, mooiste ding.”

Flamink se kind was nie die enigste voël wat na Birds of Prey geneem is nie. ‘n Klein dikkopvoëltjie met ‘n gebreekte been het hom vergesel waar hulle saam versorg sal word.

Volgens Sasol Voëls van Suider-Afrika se derde uitgawe, word die kleinflamink van die grootflamink onderskei aan die kleiner grootte en aan ‘n donkerrooi snawel wat van ver af byna heeltemal swart lyk.

Die kop-, nek- en lyfvere wissel baie, maar is normaalweg veel rooier as dié van die grootflamink, met ‘n groter stuk karmossynrooi aan die vlerke.

‘n Jong voël is bruin, maar word mettertyd ligter. Jong en onvolwasse voëls word maklik onderskei van die grootflamink aan die snawel wat heeltemal swart is.

Die flaminke kom in varswatermere, soutpanne en riviermondings voor.

Kleinflaminke word gewoonlik saam met grootflaminke aangetref. Hulle is algemene, maar nomadiese standvoëls met ‘n gansagtige “honk”-roep.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button