FeaturesInnibos NuusLifestyle

Skerpskertser maak ‘n draai by Innibos

Getoë in Kempton Park waar hy vroeg-vroeg reeds geleer het om die boelies eerder te laat skater voordat hulle hom pak, kén hy die Afrikaanse leefwêreld waarvan hy die giere, geite en gewoontes onder sy komiese tong laat deurloop.

MBOMBELA – Schalk Bezuidenhout lyk so ‘n bietjie soos daardie Borat-karakter met sy krullebol en snor, en ‘n mens is nie heeltemal seker of hy uit vrye keuse sulke lelike truie dra of besig is om homself op te stuur nie.

Boonop kry dié skerpskertser dit reg om mense te laat lag dat die trane loop sonder om soveel as ‘n mondhoek te lig. Getoë in Kempton Park waar hy vroeg-vroeg reeds geleer het om die boelies eerder te laat skater voordat hulle hom pak, kén hy die Afrikaanse leefwêreld waarvan hy die giere, geite en gewoontes onder sy komiese tong laat deurloop.

Hy takel ons beheptheid met ‘n sekere sepie, deurgrond die (on)-hebbelikhede van Afrikaanse radio, en neem ligtelik wraak op rugby met hope energie op die verhoog en teen ‘n vinnige tempo. ‘n Mens raak skoon uitasem gelag. Bezuidenhout het sy vinger op die pols van werklike gebeure.

“Ek stel die materiaal self saam en hou my oë en ore oop, want dit moet vars wees en ‘n mens moet jou gehoor se intelligensie respekteer.

Maar soms val dinge ook maar in ‘n mens se skoot,” sê hy en vertel verder dat die mense omtrent van hulle stoele afval wanneer hy grepe uit ‘n bekende tydskrif voorlees. “Die ding is, dit stáán daar. Ek lees net. Jy kan die wonderlike absurditeit daarvan omtrent nie glo nie!”

In sy relatief kort loopbaan as skerpskertser, wat in 2011 in Kaapstad begin het waar hy aan die Universiteit van Kaapstad BA met drama as hoofvak studeer het, het hy al saam met groot kanonne in die komediebedryf opgetree.

Hy het vir lagkoning Trevor Noah tydens die Nation Wild-toer in 2014 geopen; was saam met Joe Parker op die verhoog tydens dié se Nuwejaarsvertoning by Montecasino; saam met Riaad Moosa in Keeping You in Stitches 2 & 3, en ook met Barry Hilton by Comedy Central.

Sy vlotheid in Engels én Afrikaans gee hom egter ‘n voorsprong bo heelwat ander skerpskertsers. “Ja nè,” sê hy droogweg, “ek kan wegkom met goete waaroor die Engelse gefoeter sal word…”

Dít het darem nog nie gebeur nie, pleks daarvan is hy verlede jaar met die Slurpie Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar by die KKNK beloon én aangewys as die Comic’s Choice-toekenning vir Best Intermediate Comedian. As jy jou Innibos-kunstefees lag-lag wil geniet, maak seker jy woon dié vertoning by.

Dit kos slegs R82 vir ‘n 60-minuut vertoning. Schalk tree Vrydag 1 Julie om 17:00 by Lowveld High School op. Besoek www.innibos.co.za vir die volledige produksieprogram of skakel 013-741-5294.

Kliek hier vir meer Innibos nuus

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button