Kos-crawl ‘n sensoriese ervaring met kos vir die siel
'n Vier uur lange reis van kos, gesels en kuier.

Kos bly nou maar vir eens en vir altyd ‘n bindingsmiddel tussen mense – en veral vir Suid-Afrikaners is dit een selfs groter as sport.
Die jaarlikse kykNET Kos-crawl is al sedert 2014 ‘n gunsteling dis op die Innibos-spyskaart en vir die wat nie weet nie – dis soos ‘n kroegkruip, maar net met kos.
Hierdie vier uur lange reis is ‘n bewusmaking van die emosie en herinneringe wat kos in mens wakker maak – ook die bittersoet van die lewe.
Feesgangers klim op ‘n bus wat hulle na vier verskillende aandoenplekke op die Hoërskool Nelspruit-terrein neem, en daar kuier sjefs, kunstenaars, kokke- en koekedore saam.
Vanjaar se program het Bertus Basson, Tiaan Langenegger, Jak de Priester, Nicolas van der Walt, Anmar Odendal en Andries Vermeulen ingesluit. Die twee Koekedoor 2-finaliste, Corli Botha en Wessels van Vuren, het die reis met fyngebak en staaltjies uit die reeks afgesluit. En nee, hoewel die gehoor hard probeer het, wou hulle nie uitlap watter een van die twee uiteindelik die tweede reeks van Koekedoor wen nie.

Van daar ‘n vinnige stappie na die Fleur de Lis-restaurant vir ‘n “kos”-demonstrasie soos min. Hier wys sjef Nicolas van der Walt en sy assistant Cherish Jonker van die FBI-sjefskool sy slag met soetgebak en het die gehoor stomgeslaan met sy asemrowende en realistiese suikerkunswerk.

By Huis Maré, die meisieskoshuis, het Bertus Basson (beoordelaar van The Ultimate Braai Master en sjef en eienaar by Ouverture in die wynland) ‘n klein meesterlike
fynproewerbordjie opgedis wat verskillende interpretasies van, en stories oor vark insluit.
Die vierde en finale aandoenplek, is H2M langs die onderdakswembad. Anmar, oud-leerling van Hoërskool Nelspruit, is ‘n bobaas-troukoekbakster in Britanje, en het ‘n nuwe twistop die outydse Sweetie Pie gesit deur met meringue, oftewel skuimpies soos ons dit ken, te speel.
Tussendeur het storieverteller Andries op sy beurt ‘n meer “volwasse” humoristiese aanslag tot die demonstrasie gegee.
Corli en Wessels het bewys dat hulle tog die pronkgebak uit een van die vroeër episodes van Koekedoor 2, die perske-en-roomkoek met perskkoekies wat bo-op die vaniljekoek rus, bemeester het. Die wat die program volg sal weet dat dit ‘n moeilike uitdaging was vir deelnemers. Hierdie was dan ook Corli en Wessels se eerste kosdemonstrasie saam, maar hier kon die gehoor al hul vragies oor die Koekedoor-stel vra, en natuurlik ook wie wen! Ons sal egter maar moet wag en sien.
Dié jaar se crawl het veral nostalgie in die Laevelders onder die gehoor wakker gemaak met staaltjies en herinneringe deur Bertus en Anmar, wat juis eintlik oud-Laevelders is, en selfs oudleerlinge van die hoërskool. Dit is ook hiér in die hotel- en spysenierklas waar Anmar haar liefde vir die bedryf ontwikkel het. Tiaan se ouers was ook glo al hier woonagtig.
Tiaan Langenegger

Sjef en medewenner van Kokkedoor. Hy meen mens eet altyd eerste met jou oë so kos moet net so mooi lyk soos wat dit lekker smaak. En ja, hy kook graag vir al sy meisies. Hy het slaai met gebraaide hoendervlerkies op ‘n stok, biefstuk met ricotta, ClemenGold en groente asook ‘n ClemnGold-nagereg met wit sjokelade-ganache voorgesit.
Tiaan se biefstuk met ricotta, ClemenGold en groente
Bestanddele
400g riboog-biefstuk, met been
100g ricotta
1 ClemenGold
80g babagroente van jou keuse
100g sampioene
Sout en peper
Witwynasyn
Botter.
Metode
1. Haal die biefstuk uit die yskas ten minste ‘n uur voordat jy dit wil voorberei.
2. Voeg sout by ‘n kastrol met kokende water om die groente te blansjeer tot ferm, maar gaar.
3. Meng die ricotta met sout en peper.
4. Sny die ClemenGold in skywe en braai in ‘n skootjie witwynasyn.
5. Braai die sampioene in ‘n klontjie botter totdat net gaar en hou eenkant.
6. Geur die biefstuk met sout en peper en braai in ‘n baie warm riffelpan tot medium-gaar (sowat vier minute aan elke kant). Geen olie nodig, slegs vet van biefstuk.
7. Geur die groente met sout en peper en rangskik saam met die ander elemente op ‘n bord. Bedruip die borde met van die pansappe vir ekstra geur.
Jak de Priester

Sing vir ‘n lewe. Tog te bly dat hy deur ‘n boervrou grootgemaak is wat hom verskillende smake geleer het en bring ook hulde aan sy ma met sang. Hy meen ‘n Afrikaanse boervrou is ‘n ander spesie – een wat lief is vir kos en kinders.
Nicolas van der Walt en Cherish Jonker

Met Nicolas se blonde krulkop, mooi assistent en indrukwekkende suikerwerk is hier nie storievertellers nodig om verwondering in die gehoor wakker te maak nie. Hy meen as die suikergogga jou eers byt, hét hy vir jou en het Nicolas die tyd van sy lewe op 40. ‘n Protea kan hom tot nege uur vat om te voltooi. Een van sy gunstelingvriende in die kombuis is die blowtorch.
Bertus Basson

Hy maak die kos en sy GR-vroulief sê hoeveel geld hy mag verbrand. Hulle het onlangs ‘n varkie by die huis aangeskaf waar hulle leer dat diere en kos respekteer moet word. Spekkie vra soms vir drukkies en liefde. Hy meen ons hunker terug na ‘n tyd waar mense met mekaar kan praat en kos iets beteken. Bertus het ‘n vark-kroket, terrine en tuisgemaakte spek saam met tuisgemaakte mosterd en mayonnaise voorgesit.
Anmar Odendal

Sy hou van haar eierwit op stywe-punt-stadium en is nie skaam om haar skuimpie-geheime met die gehoor te deel nie. Geen koek is vir haar te groot nie en sy sê nie sommer nee vir ‘n uitdaging nie. Sy het haar heerlike roosgeur-meringues in sjokelade gedoop, en bo-op ‘n sjokelade- en lemoengeur koekie geplak.
Andries Vermeulen

Maak jy jou oë toe, dan dink jy dalk net jy hoor vir Tolla van der Merwe. Hierdie storieverteller, komediant en aanbieder het die gehoor laat giggel met sy stoute opmerkings. Diecrawl is immers as “volwasse” gegradeer.
Corli Botha en Wessels van Vuuren

Hulle sou die kans kry om dan nou drie keer op een dag te bewys dat hulle wel die pronkgebak regkry en selfs op sekere elemente kan verbeter as voorgestel in die Koekedoor-stoor. Die twee was vir vier weke saam in Tulbach en meen dit maak nie saak wie wen nie. Wessels het gewys hoe om die appelkooskoekies te bou, terwyl Corli haar resep en metode vir ‘n maklike lemoensmeer, oftewel lemon curd, gedeel het.
Corli en Wessels se suurlemoensmeer
Die smeer kan vir vyf dae in die yskas gehou word (lewer 250ml).
Bestanddele
6 groot eiers
80ml suiker
80 ml vars uitgedrukte suurlemoensap
125g ongesoute botter
Gerasperde skil van een suurlemoen.
Metode
1. Sit ‘n draadsif in ‘n bak en plaas dit naby of langs die stoof.
2. Klits die eiergele, suiker en suurlemoensap saam in ‘n medium bak. Gooi dit in ‘n swaar medium kastrol en voeg die botter by.
3. Kook op matige hitte vir sowat 10 minute. Roer heeltyd tot dik en stomend. Gooid ie smeer dadelik deur die sif om enige stukkies gaar eierwit te verwyder. Roer die suurlemoenskil by die smeer in.
4. Druk ‘n stuk kleefplastiek direk op die oppervlak van die smeer en laat afkoel. Verkoel vir ten minste twee ure voor gebruik.























