Sade van genade, die nuwe radiodrama
Die radiodrama, Sade van genade, is gegrond op Kowalec se memoir van die Tweede Wêreldoorlog, Those Miraculous Sunflower Seeds.

Katja Kowalec (95) is nie meer vandag se kind nie. Tog verskyn ‘n bloedjong Katja-karakter vanaf gister elke weeksdag op die radio.

Die boek en drama vertel Kowalec se verhaal as ‘n jong Poolse vrou tydens die oorlog, voor sy na Suid-Afrika getrek het.
LEES OOK:‘n Nuwe, sierlike sport binnekort in die Laeveld
Radio Laeveld se Roelf van Jaarsveld wou graag eers ‘n klankreeks opneem saam met Kowalec, maar daar was komplikasies met die opnames omdat haar stem te sag is.
Hy het toe met die aansporing van Rita Riekert besluit om Kowalec se boek te verwerk tot ‘n vervolgverhaal.
Dit word nou op 100.5FM uitgesaai, elke weeksdag, met ‘n omnibus op Saterdae.

Die verhaal bestaan uit 50 episodes van min of meer 10 minute elk en al 90 van die spraakstemme kom van die Laeveld. Kristen Raath, beter bekend as Amorey van 7de Laan, ook ‘n Laevelder, vertolk die hoofrol.
Plaaslike kunstenaars soos Karien van Niekerk, Natascha C en omroeper van 100.5FM, Amanda Botha, vertolk ook rolle.

By die vrystelling Vrydagaand is een van die episodes gespeel. Dit plaas ‘n mens werklik terug in die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog. Van Jaarsveld het outentieke musiek van die era gaan soek en dit ook deel gemaak van die verhaal.
LEES OOK: ONTMOET: Jacques Goosen
Luister smiddae tussen 14:00 en 15:00 op 100.5FM na Sade van genade, die storie van Katja Kowalec.
