Mustangs se dansvloer warm geskoffel tydens optrede
Mustangs het Saterdagaand gerock toe Mona-Lee en William Blackrose daar opgetree het.

Mona-Lee is bekend vir haar diep en hees stem, en het verskeie klassieke rocktreffers gesing, sowel as ‘n paar van haar eie liedjies. Dié Gauteng-kunstenaar het sommer met haar eerste lied al inwoners op hulle voete gehad. Die dansbaan is nog voor die Laeveld-son gesak het, al ingewy.

Haar bekendste album is Sense of Control.
LEES OOK: There is a risk of load-shedding tonight as power system is tight
Mona-Lee het die musiekwêreld in 2001 betree toe sy in die agtergrond vir meer bekende kunstenaars gesing het.
Sy is kort daarna in 2005 Amerika toe waar sy as sanger saam met ‘n rockgroep opgetree het.
Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy solo begin optree en by verskeie feesterreine haar verskyning gemaak. Binne ‘n kort tydperk het sy weer ‘n band, For Sale, gestig, en haar eie oorspronklike rockliedjies begin opvoer.

Teen die tyd wat Blackrose die verhoog betree het, was die dansvloer al warm geskoffel.

Met meer as ‘n dekade se ervaring agter die blad, is hy die ideale kunstenaar vir enige geleentheid. Aan die einde van die negentigerjare het sy CD vir bykans ses weke bo-aan die Suid-Afrikaanse trefferlys gebly. Sy liedjies bly maar gewild.
Hy is meer as net ‘n sanger, liedjieskrywer en vervaardiger; hierdie man kén van optree. Blackrose het onder andere ‘n paar van sy oorspronklike liedjies, ‘n verskeidenheid dekliedjies wat strek vanaf die 1920’s tot moderne treffers, opgevoer.















