EntertainmentLifestyle

Bekende skrywer onthul sy nuutste boek

Leon van Nierop het verlede week sy boek, Bloedsuier by Orange Restaurant bekendgestel.

Leon van Nierop  se liefde vir die Laeveld het boekliefhebbers tydens die laaste Pen in my Hand-byeenkoms, aangeraak.

“Die Laeveld gee my siel water – elke keer wanneer ek hiernatoe kom is ek verkwik,” het dié bekende skrywer en radioman vertel.

Die storie van Van Nierop se sielkundige riller, Bloedsuier het sy wortels in die Laeveld en handel oor ‘n voorval wat jare gelede in die Grietjie Wildreservaat aan hom vertel is.

“Net duskant Phalaborwa lê die reservaat, en dit is hier waar ‘n wildbewaarder in my teenwoordigheid ‘n oomblik van stilte moes hê omdat iets traumaties op daardie plek gebeur het. “Dit was so ‘n ongelooflike verhaal dat dit vir jare in my kop gebly het.”

Van Nierop wou nie onthul waarom sy jongste boek se titel juis Bloedsuier is nie. “Dit is ‘n groot geheim hoekom die karakter Maryke so getraumatiseerd is.”

LEES OOK: Mustangs se dansvloer warm geskoffel tydens optrede

Hy het wel laat glip dat dit ook simbolies is, en dat ‘n tema in die verhaal mense is wat op ander se kennis of menswees teer.

Bloedsuier gaan vir Van Nierop baie verder as ‘n sielkundige riller. “Dit is soos iets wat ek nog nooit voorheen geskryf het nie. Dit is soos ‘n eksperiment. Dit handel oor die probleme in die land wat mense tans ondervind, en mense wat besig is om pad te gee, hoekom hulle dit doen en waarheen hulle gaan, maar dat hul wortels altyd hier bly.”

Marius Bakkes het die boekgesprek gelei en die gehoor aangemoedig om saam te gesels. Hulle was veral geïnteresseerd om meer uit te vind oor hipnoterapie, ‘n groot tema in die boek, en of dit werk.

“Dit werk net as jy gehelp wil word,” sê die skrywer, wat persoonlike ondervinding met die terapie het. “Jy moet hulle toelaat om in jou brein in te gaan.”

Hipnose het juis gelei tot die skryf van die boek. “Bloedsuier het ontstaan omdat ek my fobie om in huisbakke te klim, wou oorkom. Ek het na ‘n hipnoterapeut gegaan en so het ons begin gesels oor hoe hulle mense help. Die stories het my so geïnteresseer dat ek karakters begin skep het.”

LEES OOK: Bergvlam se skoolhoof kry verjaarsdag verrassing

Dit het hom 18 maande geneem om die boek te skryf.

“Hierdie is die moeilikste boek wat ek in my lewe geskryf het. Die storie is ingewikkeld en dit is soos ‘n legkaart wat op sekere maniere inmekaar moes pas.”

Die deurbraak was toe Fourie Botha van Penguin Random House hom aanraai om die boek soos die rolprent, Seven te skryf. “Net daar het die penny gedrop,” glimlag Van Nierop, “Ek het myself werklik probeer verras met dié boek.”

Na ‘n maaltyd van beesstert, pampoen-koekies, roomspinasie en rys het lesers die geleentheid gehad om die skrywer hul eksemplare te laat teken.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button