EntertainmentLifestyle

Innibos bestuur is propvol nommerpas planne

Beplanning vir die Standard Bank Innibos Kunstefees, wat na 16 tot 19 Desember vanjaar verskuif is, stoom voort en die feesbestuur is hard aan die werk.

“Stil sit is nie ‘n opsie nie, en ondanks die heersende onsekerheid of openbare byeenkomste wel teen daardie tyd sal kan plaasvind ingevolge regeringsregulasies, word daar hard gewoeker aan ‘n fees-program,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuuder van Innibos.

“Mense is uitgehonger vir ontspanning; iets wat in die verlede as so vanselfsprekend aanvaar is.” Jacobs benadruk dat gesondheidsmaatreëls heel bo-aan die prioriteitslys in die beplanning van die kunstefees is.

“Dit stel wel heelwat beperkinge, maar struikelblokke is nog altyd iets wat ons in geleenthede kan omskep. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg, en ons glo feesgangers sal verantwoordelik optree,” sê sy. Nuwighede op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam is die insluiting van onder meer boekpraatjies, kos- en selfdoen-demonstrasies, asook ‘n gesellige en rustiger ruimte as deel van die kunspark waar onder meer wynproë aangebied sal word.

LEES OOK: Innibos Digitaal – jy sit in die voorste gestoeltes!

Volgens Jacobs is die fokuspunt vanjaar om waarde toe te voeg op die feesterrein om aan feesgangers die beste waarde vir geld te kan bied. “Iedereen se beskikbare besteebare inkomste is onder druk weens die Covid-19-pandemie, daarom is dit vir ons uiters belangrik om as’t ware ‘n vakansie-in-die-kleine aan te bied.

As jou vakansie op die lange baan is, bied Innibos daardie wegbreekkans,” Oudergewoonte sal die aandkonserte op die Standard Bank-hoofverhoog die hoogtepunt wees.

Kunstenaars wie optree, sal Theuns Jordaan, Elvis Blue, Riana Nel, Juanita du Plessis, Fatman, Die Campbells, Jan Blohm, Spoegwolf, Francois van Coke, Elandré Schwartz, Ricus Nel, Bok van Blerk, Die Heuwels Fantasties en Demi Lee Moore, om maar net ‘n paar te noem, insluit. Verskeie toneelproduksies debuteer by die kunstefees, waaronder Dobbel met Antoinette Louw, Suzanne Beyers, Cintaine Schutte en Marguerite van Eeden; Leengoed met Tobie Cronje en Wynand von Vollenstee, en As met onder andere Francois Jacobs in die rolverdeling.

Die immergewilde Boeke-crawl word ook weer op Kaapsehoop gehou. Daar is steeds ‘n geleentheid vir kreatiewe uitstallers wat hul handgemaakte en ander produkte wil verkoop by die Bosmôl.

Vir meer inligting hieroor, skakel Alison Linde by 082-460-3855 of stuur ‘n e-pos aan alison@innibos.co.za.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button