Potjiekosdag by Hops Hollow dié Saterdag
Saterdag 5 Desember is die groot dag wanneer die eerste Longtom Potjiekoskompetisie by Hops Hollow op die Longtompas gaan plaasvind.

Lydenburg se Longtom-tak van die internasionale BNI-organisasie, wil graag vir alle plaaslike besighede ‘n geleentheid skep om mekaar beter te leer ken en terselfdertyd spangees te bou rondom hul onderskeie potjies. Die kompetisie is ook ‘n fondsinsamelingsprojek vir die Step Foundation en Home for Paws. Elke inskrywer ontvang ‘n “gelukspak” wat ‘n voorskoot insluit – R300 vir een kok of R500 vir twee kokke per span. Daar is kontantpryse vir die beste drie potte en ‘n wisseltrofee vir die wenner wat by Hops Hollow uitgestal gaan word.
Lees ook: Mengelmoes van Afrika-klanke lig die plafon
Slegs twee kokke mag aan die pot brou maar daar is geen beperking op die aantal spanlede wat met voorbereiding, mooimaak en spangees mag help nie. Elke span moet ‘n tema kies en alle toerusting en bestanddele vir sy pot saambring. Die beoordelaars sal punte gee vir beplanning, aroma, tekstuur en smaak, oorspronklikheid en aanbieding, maar beslis ook vir spangees en ambience. Die vure word om 09:00 aangesteek en die publiek sal van ongeveer 12:30 af kan potjiekos koop. Daar is ‘n pretpark vir kinders, ‘n musikant en genoeg te eet en te drink. Covid-regulasies sal in plek wees.
Vir meer inligting, skakel Willie Botha by Hops Hollow 076-151-1939. BNI Longtom is in 2012 gestig om sake-eienaars toe te rus met vaardighede om hul besighede te bemark en verhoudings te bou. Covid het dié organisasie na ‘n volgende vlak geneem en danksy virtuele weeklikse vergaderings, kan besighede van omliggende dorpe nou ook inskakel by die Longtom-tak.

