Koeleman-huis ná dekades steeds ’n baken in Lydenburg

In 1886 het Pieter Adrianus Koeleman uit Utrecht, Nederland, met sy 10 kinders na Suid-Afrika geïmmigreer.

In 1886 het Pieter Adrianus Koeleman uit Utrecht, Nederland, met sy 10 kinders na Suid-Afrika geïmmigreer. Die twee oudste seuns het reeds twee jaar vantevore hierheen verhuis en hul in Dullstroom gevestig. Pieter en sy gesin het by hulle tuisgegaan terwyl die familiehuis op Lydenburg gebou is. Oor die afgelope 135 jaar het die huis selde van eienaars verander en was dit tot in 2002 in die Koelemans se besit.

Vandag staan dit bekend as die Steelburger/Lydenburg Nuus se kantore. Toevallig was dit ook die skrywer van die artikel en joernalis, Michelle Boshoff, se familiehuis.

Die eersdaagse Steelburger/Lydenburg Nuus-kantore.

Haar ma, Elize Boshoff (née Koeleman), het in dié einste huis grootgeword, saam met die bekende klavierjuffrou en orrellis, Alwine Koeleman, en hul broer, prof. Boeta Koeleman.

Hulle was die laaste geslag Koeleman-kinders wat in die huis grootgeword het. Pieter het die erf gekies toe hy nog in Utrecht was, omdat Viljoenstraat aan die oostelike kant van die dorp was. Hy en sy seuns was hoefsmede en wamakers.

’n Werkswinkel was opgerig op die perseel waar die Hervormde Kerk vandag is. Die Koeleman-huis was ook die eerste kraaminrigting in Lydenburg. Hendrik Albertus, een van Pieter se seuns, het in 1909 met Alwine Timpe getrou. Sy was die matrone van die kraaminrigting. Sy het aan Guys Hospitaal in London studeer en na die Anglo-Boereoorlog na  Suid- Afrika gekom. Hulle seun, Henry Victor Emil Koeleman, is in 1911 gebore.

Elke dag was dit ’n miernes van bedrywighede by die huis. Die hoefsmid was die middelpunt van enige dorpsake. In die ruim kombuis van die huis is elke dag ’n volledige spyskaart voorberei vir pasiënte en besoekers. Niemand het sonder iets te ete of te drinke die perseel verlaat nie. Hulle was bekend vir hul gasvryheid.

In die sitkamer was ’n rooshout[1]klavier wat vandag nog in die skrywer se besit is. Agter die huis was stalle vir frieskoeie wat melk, botter en karringmelk aan die dorp voorsien het. Van die familiegrond is in die veertigerjare aan die Hervormde Kerk vir ’n kerkgebou en pastorie geskenk. Een van die bekendste geskiedenisverhale van die kontrei is die poskoetsroof naby Pelgrimsrus in 1897.

Jakarandabome in blom voor die huis.

In ’n 1969-artikel van The Star het Willem Koeleman van sy herinneringe van die befaamde rooftog vertel. Willem se broer was die skrywer se eie oupagrootjie, Hendrik Koeleman. Willem was die eienaar van die Koeleman Hotel op Krugerspos, tussen Ohrigstad en Lydenburg, in vennootskap met Abel Erasmus. Die hotel was ’n naloper van João Albasini (temmer van die Laeveld) en Mariano de Souza se halfwegstasie, nadat hulle begin transportry het tussen Suid-Afrika en die ou Lourenço Marques.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button