NHS-revue vier 30 jaar se volgehoue sukses
Hoërskool Nelspruit se 30ste revue het gehore vermaak met energieke optredes en gewilde musiekverwerkings.
Hoërskool Nelspruit se revueproduksies het oor die verloop van 30 jaar groot vermaak vir Laevelders op die planke gebring en kaartjieverkope het amper al in vuisgevegte ontaard. Die skool het verlede week met hul 30ste produksie gespog en spesiaal 12 alumni uitgenooi om deel van die viering te wees.

Ezette Mans, die revueproduksie-bestuurder, het meer oor wat agter die skerms gebeur, gedeel.
“Ons het spesiaal alumni van die afgelope 10 jaar uitgenooi om liedjies te sing uit die produksies waarin hulle was. Uit lojaliteit teenoor die skool het hulle op hul eie onkostes gereis en die musiek by die ateljee opgeneem.”
Tydens die vertoning is die opnames op ‘n skerm gespeel wat soos musiekvideo’s vertoon het. ‘n Spesiale oomblik was toe oud-Nellie, René Rosslee, se “Shake It Off”-video van Taylor Swift gespeel het terwyl Rosslee se twee susters, wat in gr. 8 en 10 is, voor gedans het.
“Vanjaar se produksie dien as ‘n inleiding tot hoe die volgende 10 jaar se produksies gaan lyk,” verduidelik Mans.
Bekende liedjies soos “Dagdrome in Suburbia”, ‘n rockliedjie, is met kontrasterende ballerina-dansers uitgebeeld. Francois van Coke, wat die lied saam met Spoegwolf sing, het selfs ‘n video op sy Instagram-profiel gedeel en die skool aangemoedig.
LEES OOK: NHS-revue trek splinternuwe kostuum aan
Menzi Shiba, wat verlede jaar groot opslae gemaak het met “Baby Tjoklits” en “Jessica”, het die verhoog laat lewe kry met sy energieke optrede en sterk verhoogteenwoordigheid. Hy het onder meer treffers soos Elandré se “Skud” en Benson Boone se “Beautiful Things” gesing.

Ander soliste, waaronder Kaylee Douglass, Boipelo Diphoko, Matthias Smook, Chalyssa Nel, Anika van Staden, Rossouw van Wyk, Esti Bekker, Nicolien Lourens, Elchen Marais, Luke Groenewald en Andrew King, het elkeen hulle talent ten toon gestel met indrukwekkende vertonings.
Om só ‘n produksie op die planke te bring, verg ‘n jaar se beplanning. Met die hulp van Signature Performing Arts and Theatre het leerlinge hard gewerk om die choreografie in net sewe weke in te oefen. Die kostuums, klank en musiekverwerkings is ook deur die organisasie behartig om jaarliks ‘n topgehalte-vertoning aan te bied.
LEES OOK: Genres: ‘n Fees van kleur en talent in Hoërskool Nelspruit-revue
Mans is al 13 jaar deel van die produksie en het erken dat tegnologie dit moontlik maak om die revue elke jaar verder te verbeter. “Wat vanjaar se revue besonders maak, is dat ons ook ons eerste seun-solo-dans gehad het,” vertel Mans.
Franco Neuhoff, ‘n gr. 11-leerling wat ook rugby speel, het verlede jaar vir die eerste keer geoudisieer en tydens die vertoning die gehoor met sy lugakrobatiek (aerial silk)-dans asemloos gelaat.
“Mense weet nie, maar hy het einde Maart ‘n fraktuur in sy gewrig opgedoen ná ‘n motorfietsongeluk. Hy het egter deurgedruk en ‘n wêreldklasdans opgevoer.

“Revue leer kinders om goed te organiseer en goeie besluite te neem,” sê Mans.
Baie revuelede verteenwoordig ook die skool in netbal, rugby en hokkie. “Van die kinders oefen tot 18:00 saans en begin dan weer van 19:00 tot 22:00 repeteer.”
Voor die gala-aand Saterdagaand het leerders van so ver as Secunda en Pretoria van sportbyeenkomste af teruggereis om op te tree.
Met gala-aandkaartjies wat binne 13 minute uitverkoop het, bewys Hoërskool Nelspruit weer eens dat hul revue een van die bestes is en iets is waarna Laevelders elke jaar uitsien.
