Lugbesoedeling is onaanvaarbaar
'n Prokureur van die Sentrum vir Omgewingsregte het die Steve Tshwete Munisipaliteit op die omgewingsregte blog en in 'n persvrystelling oor die vingers getik, omdat hulle lugbesoedeling in ons omgewing toelaat.
Robyn Hugo sê munisipaliteite in die besoedelde Mpumalanga Hoëveld, waarvan die Steve Tshwete Munisipaliteit een is, sukkel om die lugkwaliteitwet af te dwing.
“Die slagoffers van hierdie tekortkominge is die inwoners van Mpumalanga wat alreeds op ‘n daaglikse basis met potensiële lewensgevaarlike lugbesoedeling gekonfronteer word. Dringende aksie moet geneem word, selfs deur ‘n regsgeding, indien nodig, om te verseker dat hul konstitusionele reg om skoon lug in te asem, bewaarheid word!”
Me. Hugo was een van die verteenwoordigers van die CER (Centre for Environmental Rights) wat Middelburg besoek het.
Hul ondersoek het gevolg op versoek van die plaaslike Nkangala Omgewings Krisisvereniging. Hulle is vergesel deur aktiviste van GroundWork, Greenpeace, asook die Myn- en Omgewingsregte Gemeenskapsnetwerk.
Die groep het vir ‘n week lank ondersoeke gedoen, opnames gemaak en van die aktiviste het ook foto’s uit die lug geneem van areas in die Hoëveld soos Middelburg, Hendrina, Belfast, Kriel en eMalahleni.
Daarna is daar vergadering gehou met verteenwoordigers van NECA en later met beamptes van die Nkangala- en Steve Tshwete Munisipaliteit.
Die Hoëveld, met Middelburg as een van hierdie dorpe wat geraak word, huisves 12 Eskom kragstasies, Sasol operasies, Hoëveld Staal en Vanadium, Columbus Stainless, Samancor, Rand Carbide, Vanchem, Exxaro, Zincor en vele myne en ander industrieë.
Lugbesoedeling is ‘n noodsaaklike gevolg van hierdie industrieë se operasies en hulle is geregtig daarop, met dien verstande dat hulle voldoen aan die atmosferiese uitskeidinglisensies en lugkwaliteitwetgewing.
Maar omdat lugbesoedeling in die area reeds die vlakke oorskry vir aanvaarbare gesondheid en die gesonde voortbestaan van die omgewing, word spesifieke lugkwaliteitbestuur vereis, sê Hugo.
In 2007 het die Minister van Omgewingsake en Toerisme, Marthinus van Schalkwyk, die Hoëveld uitgewys as ‘n lugbesoedeling brandpunt. Verskeie departemente in samewerking met die Departement van Mineraleregte, Gesondheids-departemente, lugbesoedelingkenners, verteenwoordigers van myne en ook die Steve Thswete Munisipaliteit, het met ‘n aksieplan, bekend as die Hoëveld Prioriteitsplan, vorendag gekom.
Met die ontwikkeling van die Hoëveld Prioriteitsbestuursplan word daar van industrieë wat besoedeling veroorsaak, verwag om planne te maak om lugbesoedeling tot die minimum te beperk.
In terme van die lugkwaliteitwet is munisipaliteite verantwoordelik vir die implimentering van die atmosferieseuitskeidinglisensiesisteem.
Op vrae deur die CER, het die munisipaliteit gesê dat begrotingsbeperkings die rede is waarom hulle nie by hul verantwoordelikhede kan hou nie.
Die Steve Tshwete Munisipaliteit beslaan ‘n geografiese area van 3 993 vierkante kilometer, wat Middelburg, Mhluzi, Hendrina en 12 ander kragstasie- en myndorpe insluit.
Vier kragstasies van Eskom, verskeie myne, waaronder Shanduka en Blackwattle, en Columbus Stainless is van die industrieë in die omgewing. Drie lê binne Steve Tshwete, Arnot, Hendrina en Komati. Die vierde een is Duva (wat op die Steve Tshwete) grens lê, maar is in Emahlaleni.
Me. Hugo sê op haar blog die Sentrum vir Omgewingsregte het met die wet vir die openbaarmaking van inligting aanspraak gemaak op inligting van impakstudies wat in 2006 gedoen is.
Hierdie studies het aangedui dat daar in 2006 (toe daar nog net agt Eskom kragstasies in Mpumalanga was) 17 nie-ongeluksterftes was en 661 mense in hospitale behandel is vir respiratoriese probleme.
Eskom het nou 12 kragstasies in hierdie omgewing.
Eskom, asook verskeie ander industrieë (waaronder Sasol) het vir uitstel gevra om aan die vereistes van nuwe wetgewing oor lugstandaard, met die afsnytyd in April 2015, te voldoen.
“As hierdie aansoeke toegestaan word, beteken dit dat lugbesoedeling, met al sy gesondheidsnadele, net sal toeneem. Dit is duidelik in teenstelling met die doel om dit ‘n prioriteitsarea te maak!
“As die Steve Tshwete Munisipaliteit nie dringende ondersteuning en hulp kry van ander regeringskringe om hul kapasiteit te ontwikkel nie, ‘n konstitusionele vereiste, sal dit baie onwaarskynlik wees dat hulle hul lugkwaliteit verpligtinge effektief sal kan nakom.”
• GroundUp joernalis, Barbara Maregele, het verskeie lugfoto’s geneem tydens ‘n private vlug oor Middelburg, Belfast, Hendrina en Kriel. Sy het later op die GroudUp webtuiste gesê dat dit duidelik was dat daar wel pogings deur myne was om die grond te rehabiliteer waar gewerk is. Hul foto’s het egter aangedui dat daar nog groot oop ruimtes is waar daar gemyn word, wat in baie gevalle met besoedelde water gevul is.
