Padwerke begin op N11 by Loskopdam
Motoriste op die N11 tussen Groblersdal en Loskopdam word gewaarsku oor moontlike vertragings weens padwerk en stop-en-ry punte op die roete.
Motoriste wat van die N11 (Loskopdampad) tussen Groblersdal en Loskopdam gebruik maak, word gewaarsku om vir moontlike vertragings voorsiening te maak nadat padwerk vandag, 14 Mei, op die roete begin het.
Daar is tans ’n stop-en-ry punt sowat 29 km buite Groblersdal in werking, ongeveer 2,9 km vanaf Damwal Slaghuis op die N11. Verkeer kan volgens berigte met tot 30 minute vertraag word.

Die padwerk behels die herteer van sekere dele van die pad, asook die herstel van slaggate op ander gedeeltes. Die doel is om die algemene toestand van die pad te verbeter en veiliger rytoestande vir motoriste te skep.
Volgens beskikbare inligting sal die werk geleidelik in die rigting van Groblersdal voortbeweeg. Daar is tans nog geen bevestigde datum vir wanneer dit afgehandel sal wees nie.
Motoriste word aangeraai om hul vertrektye en roetes betyds te beplan, veral gedurende spitstye en oor naweke wanneer verkeer op die roete toeneem.
Padgebruikers word ook versoek om geduldig te wees en ekstra versigtig deur die werksones te ry.
