Daar waar die klipstapel gepak is…
Coligny, rassisme, doodskissaak, rassisme, plaasmoord, rassisme, politici, rassisme... Dan woon jy ’n rugbywedstryd op Middelburg by.

Langs die rugbyveld waar daar in 1992 ’n klipstapel gepak is deur regse inwoners wat gesweer het blank en wit sal nooit ooit saam lewe op die dorp nie.
In my kantoor staan ’n geraamde koerant met die hoofopskrif wat uitbasuin: “Intimidasie by skole en koerant”. Maar dit is nie wat besoekende Amerikaanse joernaliste grootoog laat foto’s neem nie.
Dit is die galgtou langsaan en oranje plakker wat sê: “Volksverraaier”
Daardie galgtou is by die koerant se voordeur opgeplak, vermoedelik deur die regse “Boerekommando”.
Waarom?
Omdat die koerant die vorige week geskryf het: “’n Oop gemeenskap”.
Daardie berig het gesê dat swart en wit, bruin en geel en watter kleur ookal, eendag soos ’n reënboog saam sal werk en lewe op Middelburg.

“Nooit!” is geskreeu.
Daar waar swart en wit Saterdag lag en speel moes Mathews Temane en ander swart atlete onder bome ’n koeldrank drink omdat hulle nie saam met die wit elite in die saal kon kuier nie.
Maar dit is lank terug, amper al in die vergetele.
In 1994 het die voorspelling van die 1991 Middelburg Observer waar geword – ’n nuwe Suid-Afrika is gebore.
Die klipstapel is lankal stuk-stuk weggedra.
Net soos die pyn van lank-lank gelede se Suid-Afrika.
Daardie Saterdag speel klein Mnqobi Dlangalala saam met die Van der Merwes, die Meys en die Viljoens, sonder dat hulle van enige kleur bewus is.
Excellent Mnkomo hanteer die tweede spanne se wedstryd. Hy word ’n groot vet druk gegee toe die eindfluitjie blaas. Hy is net nog ’n skeidsregter, ’n Suid-Afrikaner.
Stap nader om hom geluk te wens, in Engels, want hy is mos Engels?: “Excellent game!”
En dan antwoord hy: “Baie dankie Oom”.
