Papapavlou saak: Tseka en Maftle weer in die hof
Die ma en seun wat daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om Raymond Papapavlou (28) te vermoor, het vandag vlugtig in die Groblersdal Landdroshof verskyn.
Papapavlou is op 4 Oktober 2020 op die plaas Rooikraal, tussen Groblersdal en Stoffberg, in sy bed doodgeskiet.
Calvin Tseka (31) en Paulinah Mamalope Mafatle (57) is op 25 Augustus in Gauteng in hegtenis geneem op aanklag van sameswering om moord te pleeg.
Tseka is Mafatle se biologiese seun.
Lees ook: Papapavlou moord glo in tronk beplan
Die saak is vanoggend uitgestel na 4 November vir die hooggeregshof se beslissing rakende die akte van beskuldiging.
Tseka en Mafatle is verteenwoordig deur mnr. Tabiso Sibanda.

Mnr. Sibanda het gevra dat die saak van die rol geskrap word, waarop die landdros besluit het dat nog te nuut is om die saak van die rol te skrap.
Lees ook: Vroue se sake saamgevoeg na Papapavlou moord
Die ondersoekbeampte, adjudant offisier Debbie van Zyl, het tydens Tseka en Mafatle se borgaansoek getuig dat beide van hul telefoonkommunikasie met Patricia Ray-Lee Smith en Simoné Papapavlou gehad het. Hulle het ook glo beide fondse van Smith ontvang, voor Raymond se moord.
Smith het ’n liefdesverhouding gehad met Simoné, Raymond se vrou. Daar is verlede jaar in die hof getuig tydens Simoné se borgaansoek, dat die verhouding die motief was vir Raymond se moord, aangesien hy in die pad gestaan het van hul verhouding.

Smith is kort na Raymond se moord in hegtenis geneem en Simoné byna ’n jaar later.
