Kassiere lewe in vrees – nóg ’n drankwinkel beroof
Middelburg se kassiere leef in vrees, na die soveelste besigheidsroof gistermiddag op die dorp.
Een persoon is al doodgeskiet, een gewond, verskeie is wreed aangerand, sonder enige aanduiding dat die polisie die vlaag rooftogte probeer stop of arrestasies uitvoer.
Die rooftog by LeBa Drankwinkel (Samora Machelstraat) was die derde besigheidsrooftog sedert Vrydag.
Daar is bevestig dat vyf rowers gistermiddag kort na 13:00 by die drankwinkel ingestorm het met wapens en die kliënte en werknemers aangehou het.
Lees ook: Supermarket owner shot in leg during brazen daylight attack
Die presiese omstandighede is nog nie bekend nie, maar dit was byna presies dieselfde as vorige rooftogte by drankwinkels en besighede die afgelope paar maande.
Kassiere sê al is daar veiligheidsmaatreëls soos paniekknoppies lewe hulle in vrees, omdat die rowers koelbloedig is en nie skroom om te skiet nie.
Lees ook: Petrol station workers left traumatised by business robbery
Verlede week was Lion Kelders die slagoffers van ’n soortgelyke rooftog en oor die naweek was daar nóg twee soortgelyke rooftogte.
Lees ook: Rower druk wapen onder reaksielid se ken
•Die rowers se tipiese modus operandi is om in te stap, almal in die besigheid te dwing om te sit of op die grond te lê, terwyl kassiere gedwing word om vir hulle die geld te oorhandig.
As daar ’n bestuurder naby is, word hy of sy gewoonlik gedwing om ’n kluis, waar geld gehou word voor die gebank word, oop te maak.
Tydens van die rooftogte vat die rowers, buiten kontant, ook van die artikels in die besigheid én die CCTV kameras en ander tegniese toerusting saam met hulle.
Hulle huiwer ook nie om summier op besigheidseienaars, kliënte of personeel te skiet as daar enigsens teenstand gebied word nie.
