So lyk die roofbende wat die dorp teister
Een van die roofbendes wat Middelburg die afgelope paar maande teister is op CCTV kamera vasgelê!

Hul modus operandi was presies dieselfde as bykans al die rooftogte die afgelope tyd waar vier gewoonlik by die besigheid ingaan en twee buite wag.
Die groep het oor die naweek by ’n besigheid (wat anoniem wil bly) ingegaan en hulle aanvanklik voorgedoen as kliënte. Een het soos met die rooftog waar Sam Nyambo doodgeskiet is by die Toskana Sentrum, eers gemaak asof hy ’n koeldrank koop.
Lees ook: Kassiere lewe in vrees, nog ’n drankwinkel beroof
Daarna ruk hy ’n wapen uit en rig dit op die personeel.
Kliënte wat besig was om te betaal vir artikels, het dadelik eenkant toe geloop.
Die een wat die wapen uitgepluk het, loop om die betaalarea om personeel te dwing om geld uit te haal, terwyl sy makker, ’n man met ’n netjiese baard en mus, ook sy wapen deur die veiligheidsvensters druk en almal aanhou.
Lees ook: Man doodgeskiet tydens roof in Toscana winkel
’n Ongewapende man met ’n bokbaardjie en kakiehemp, sluit daarna by hulle aan en wys van die kliënte waar om te staan.
Terwyl die rooftog aan die gang was, het ’n man met ’n donkerblou sweetpakbaadjie ingekom, maar sy gesig wys nooit op die videomateriaal nie.
Die hele rooftog was in ’n kwessie van minder as drie minute verby.

•Tydens van die rooftogte is die CCTV kameras en tegniese materiaal gevat, maar tydens hierdie rooftog het die rowers nie belanggestel in die kameras nie, tensy hulle nie die kameras gesien het nie.
•As enige persoon die rowers herken of inligting het wat die polisie kan help in hul ondersoeke van die verskillende rooftogte, bel 013 249 1601 of 08600 1011.
Die “My SAPS” Toep (App) kan ook afgelaai word en inligting deurgestuur word.
Lees ook: Robbers target liquor store in CBD
Inligting sal vertroulik hanteer word, as mense dit so verkies. Hulle moet net as hulle inligting vir die polisie op die Toep deurgee, onthou om byvoorbeeld te sê wanneer en waar die rooftog was en dan duidelik sê Middelburg, Mpumalanga (aangesien daar ook in die Kaapprovinsie ’n dorp met die naam Middelburg is).
•As jou besigheid in die laaste maand beroof is en daar is nog nie daaroor berig nie of jy het foto’s of videomateriaal van die rowers, bel Daleen Naudé by 013 243 1434 of stuur ’n e-pos na daleen@mobserver.co.za.
https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7162092666732268806
