News

Vrou vertel van 25 minute onder omgeslaande boot in rowwe see

Met haar kop in ’n lugborrel onder ’n omgeslaande boot, het Liezl Kirchner gedink sy is op pad na die bodem van die see.

“Ek het ’n lig gesien en gedink hulle kom soek my op die bodem. Ek het nie geweet hoe diep ek in die see was nie. Ek is baie gelukkig, ’n beskermengel het vir my daardie gat gemaak sodat ek kon asemhaal,” vertel Liezl.

Sy was deel van die BOLS-span op die Dela-ca-Sea wat die naweek aan die Queens of the Ocean hengelkompetisie by St Lucia deelgeneem het.

“Vrydag het alles goed gegaan en ons is sonder enige probleme die see in.”

Saterdagoggend het hulle, soos die vorige dag, weer die branders aangedurf om die see in te vaar.
Alles het egter skielik baie vinnig gebeur.

Vrydag is die Dela-ca-Sea sonder enige probleme die see in waar die vroue die hele dag gehengel het.

Hulle is met ’n brander die see in, die volgende oomblik “het ek net gehoor: ‘hou vas!’ en het ’n tweede brander die boot van die kant af geslaan en hom laat omslaan.”

Liezl sê alles is nog deurmekaar wat daarna gebeur het.

Van die lede van die hengelspan dobber op die water met die boot in die agtergrond. Liezl Kirchner was onder die boot met haar kop in ’n lugborrel wat die seil van die boot gevorm het.

“Dit het soos ure gevoel toe ek opkom en daarna onthou ek dat my kop in die gat was.” Die boot se seil het ’n lugborrel gevorm.
Sy het paniekerig rondgekyk vir haar ander vriendinne en skipper, Driken Grobler.

“Ek het Driken, se stem by my gehoor. Hy het vir my gesê: ‘raak rustig, hou net vas.’ Ek het bietjie rustiger geraak, want ek het gevoel daar is nog iemand by my.”
Driken het nog iets vir haar gesê, maar dit het nie by haar geregistreer nie. Hy het daarna onder die water verdwyn.

Lees ook: Gebede toe vrou onder omgeslaande boot vasgepen is

Sy het eers later, nadat alles verby was en sy veilig op die strand was, by hom gehoor dat hy vir haar gesê het om haar reddingsbaadjie los te maak sodat hulle onderdeur die boot kan swem kant toe.

“Ek het nie geweet hoe lank ek daar met my kop in die gat was nie, want my brein het alles geblok, maar ek weet dat ek die hele tyd ’n selfoon hoor lui het. Dit was dalk onmoontlik, want al die selfone was tog nat.”

Met die gedruis van die see in haar ore en die idee dat sy bodem toe gaan, het sy skielik die lig gesien, toe mense die boot kant toe sleep en dit effens opgelig het sodat sy kon uitklim.

Lede van die Nasionale Seereddings Instituut (NSRI) fynkam die area terwyl daar na Liezl gesoek is.

Driken het nadat hy saam met Liezl onder die boot was, agtergekom dat sy nie registreer dat hy vir haar sê om haar reddingsbaadjie uit te trek nie.

Hy het sy eie reddingsbaadjie losgemaak, kant toe geswem en vir die reddingswerkers gesê dat Liezl onder die omgeslaande boot is, maar wel kan asemhaal met die lugborrel.

Met die hulp van talle mense het hulle die boot uitgekry en Liezl uitgehelp.
Sy wou dadelik weet waar is die res van die vroue en is sy verseker dat almal na veiligheid geswem het.

“Daar was soveel beskermengele om elkeen van ons daardie dag, want nie een van ons is in die hospitaal opgeneem nie!”

Liezl meld dat sy aan haar linkerkant ’n hele paar blou kolle, ’n lelike sny aan haar middeltoon en haar linkerkuit seer gemaak het.

Sy weet dat sy, terwyl sy in die lugborrel was, brandstof geruik het, maar later is die brandstofkanne nagegaan en alles was nog vol. “Hulle vermoed die brandstof wat ek ingeasem het, was van een van die brandstofpypies afkomstig.”

’n Ambulans is na die strand ontbied en is die ander vroue per ambulans hospitaal toe geneem, omdat hul beserings ernstig gelyk het.

Die span van die BOLS Hengelklub kort voordat hulle aan die Qeens of the Ocean kompetisie deelgeneem het. Maritsa Gouws, Michelle Smith, Mia Brits, Liezl Kirchner, Daniela Grobler en Driken Grobler.

“Die een vrou se sleutelbeen het geskuif en die ander vrou het haar rug seergemaak.”

Liezl het in ’n noodvoertuig gewag totdat sy ook hospitaal toe geneem kon word.

Nadat hulle almal ondersoek en behandeling gekry het, het hulle dieselfde aand nog saam met almal by die prysuitdeling gekuier.

“Ons is tawwe koekies! Maar dit is beslis ’n wonderwerk dat nie een van ons ernstiger beseer is nie!”
Die ongeluk het haar beslis nie bang gemaak om weer die see in te gaan nie.

“Driken is ’n ervare Skipper, wat dit al vir meer as 12 jaar doen. Ek sal wéér saam met hom uitgaan see toe. Ons het al klaar weer vir ’n visvanguitstappie in Februarie bespreek. Dit was ’n blote ongeluk, hy het niks verkeerd gedoen nie.”

•Die hengelklub se naam, BOLS, is afgelei van die lede wat kom vanaf Burgersfort, Ohrigstad, Lydenburg en Steelpoort.
Buiten Driken en Liezl, was Maritsa Gouws, Michelle Smith, Mia Brits en Daniela Grobler saam op die boot.

•’n Groep Middelburgse vroue, wat ook aan die kompetisie deelgeneem het en reeds agter die branders die see ingevaar het, het dadelik begin bid toe hulle hoor dat ’n boot omgeslaan het.

•Die hooforganiseerder van die Queens of the Ocean kompetisie, Velia Tonkin, het haar dank uitgespreek teenoor elke persoon en organisasie, soos die Nasionale Seereddings Instituut, wat Saterdag tydens die bootongeluk gehelp het.

•Bekende Youtuber Petrus Viviers (@PetrusandPardette Extreme Boating) het goedgunstiglik van sy videomateriaal en foto’s beskikbaar gestel vir publikasie. Hy het die hele reddingspoging Saterdag afgeneem.

@middelburgobserver

Woman rescued from capsized boat after being trapped for 25 minutes

♬ original sound – MiddelburgObserver

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button