Silwer Fiesta staan na weke steeds by sentrum
Dis nou die vyfde week wat die silwer Ford Fiesta wat by Midwater Sentrum afgelaai is, in die parkeerterrein staan.

Sentrum bestuur sit met die hande in die hare oor die voertuig wat hulle daar weg wil hê.
Die voertuig is op 2 Junie in die parkeerarea afgelaai deur twee mans in ’n wit bakkie.
Die karretjie is soontoe aangery op ’n sleepwa.
Lees ook:
Raaisel verdiep daagliks oor voertuig wat al drie weke by sentrum staan
Die identiteit van die man wat die voertuig glo daar gaan aflaai het is bekom, maar hy ontken dat dit hy was.
Die man bedryf ’n motorherstelwerkonderneming in sy agterplaas.
Hy het tot onlangs toe sy eie werkswinkel gehad maar dié het weens finansiële redes gevou.

Die motorwerktuigkundige sê hy is gevra om ’n ondersoek op die voertuig te doen, wat wel gebeur het.
Die eienaar van die voertuig het egter nooit vir die werk betaal nie en ook nie belang gestel om die kar te gaan haal nie.
Die man sê iemand het op 2 Junie by sy huis opgedaag met die opdrag om die voertuig weg te sleep.
“Wie dit was en waarheen die kar is traak my nie.”
Lees ook:
’n Vrou het later ook die Middelburg Observer geskakel en gesê dat sy opdrag gegee het dat die voertuig weg gesleep word, nadat die eienaar van die voertuig haar toestemming gegee het.
Die vrou, wat anoniem wil bly, sê dat die voertuig se eienaar en haar tweejarige kind in veilige bewaring by hulle was.
Drie ander kinders is glo al vantevore ook by die voertuig se eienaar weg geneem.
Volgens haar het die vrou terug geval na dwelms en met haar kind by die bewaringshuis verdwyn.
Die vrou is glo ook betrokke by satanisme.

Sy bevind haar nou glo in Johannesburg.
Beide die motowerktuigkundige en die vrou sê dit skeel hulle min wat met die voertuig gebeur.
Beide weier ook om die voertuig te gaan haal.
Radiogroepe het gepoog om die sentrum te help deur die plaaslike verkeersafdeling te versoek om die voertuig te skut.
Dit het egter nog nie gebeur nie.
Die polisie weier ook om die voertuig weg te sleep, omdat dit nie as gesteel aangemeld is nie, en ook nie met enige misdaad verbind kon word tot hede nie.
Die sentrum is op moedverloor se vlakte weens almal wat net skouers optrek.
