Lugtydboef sê sy ‘skapies kry warm agterop die bakkie’
Die nou reeds bekende lugtydboef het gister weer in Middelburg toegeslaan.
Die lugtydboef wat mense met sy slimpraatjies oorreed om vir hom lugtyd of data te koop, het weer met ’n sopstorie ’n besigheid probeer inloop. “Toe hy egter vra vir lugtyd en data, het ek hom in sy peetjie in gestuur,” sê ’n vrou (wat anoniem wil bly).
Hy het hom eers voorgestel as ‘Pienaar’ toe hy met een van die werknemers gepraat het. Later het hy gesê hy is ‘Oom Boet.’
Die vrou sê hy was baie oortuigend en het gedetailleerd vertel wat fout is met sy bakkie. “Hy het selfs gesê ons moet onthou om nommer 14 spanners saam te vat.”
Op ’n stadium het dit geklink asof hy pleit toe hy sê hulle “moet gou maak, want die skapies agterop my bakkie kry baie warm!”
Die span het alles gereed gekry om te vertrek toe hy vir een van die werknemers vra om vir hul R600 se lugtyd te koop en die kode te stuur. Kort daarna het die vrou hom ook geskakel om presies die ligging te kry waar hy is, toe hy haar vra vir drie R200 databondels. Hy het selfs beloof dat hy baie meer kontant vir hulle sal teruggee as hulle hom langs die pad ontmoet.
“Ek het dadelik besef wie dit is en het in baie duidelike taal vir hom vertel wat ek van hom dink!” het sy vies gesê.
Die vrou wil graag ander besighede in Middelburg waarsku dat hy weer bedrywig is.
In Februarie 2022 het ’n sakeman gou agtergekom dat dit die lugtydboef is wat hom skakel en het hy gejaag na die Middelburg Observer se kantore, waar die joernalis ingeluister het op die gesprek en die gesprek ook opgeneem is. Talle mense het daarna laat weet dat dit een en dieselfde man is wat hulle op vorige geleenthede ingeloop het.
Lees ook: Joernalis luister in op lugtydboef gesprek
Hy het selfs die Hospicevereniging geteiken
Die boef het op ’n keer selfs die Middelburg Hospicevereniging probeer inloop.
Lees ook: Lugtyd bedrieër probeer Hospice indoen
Koop dwelms met lugtyd wat jy vir ‘vriendelike oom’ koop
’n Paar jaar gelede het National Crime Assist (NCA) ’n ondersoek gedoen nadat die soveelste mens vir sy slimpraatjies geval het.
Die skuldige se spoor is tot in die Bethal tronk gevolg en is die gevangene na ’n ander tronk geskuif. Die ondersoek het egter aangedui dat daar nie net een gevangene was wat mense so gekul het nie.
Daar is destyds met die lugtyd in die tronk handel gedryf vir ondere dwelms.
Dit blyk ook dat gevangenes soms hulp van buite het om hulle te help om teikens te identifiseer.
