News

Op Kersdag blaai ons terug tot in Maart

Van ’n besoek van die president by die nuwe hospitaal tot die afskeid van ons geliefde Middelburg Observer redakteur was in Maartmaand in die nuus

Op hierdie spesiale Kersdag, kyk ons terug wat tussen die nuusblaaie en op die webtuiste van die Middelburg Observer gebeur het in Maart.

Koerant:

• Tobie van den Bergh, wat vir 48 jaar ’n nuusman was in murg en been, groet die koerant in Maartmaand.
Hy begin sy laaste Flopsport, die rubriek wat vir soveel jare die sportliefhebbers vermaak het, met: ‘Fluit-fluit, Floppie is uit!’
Daarin is kosbare onthou-oomblikke vervat: soos:
‘• Wat begin het as Papbal in 1985 en Flopsport geword het in 1990, eindig in 2024, byna 40 jaar later.
• Daar gaan seker ’n gejuig op in die Kaap. (Of daar word dalk ’n traantjie afgevee, want vir wie gaan hulle nou boodskappies stuur wanneer Oom Flopsport se geliefde Blou Bulle teen die Visvoete verloor het?).
• Ja, “Oom Flopsport”! Was ’n kosbare oomblik. Het by die pawiljoen opgestap by Loftus toe iemand uitroep: “Hi, is Oom Flopsport ook hier?” Dit was Smurf, die dorp se grootste Blou Bul ondersteuner.
• Die “Man van die Bazaar” moes ’n paar keer kerrie-en-rys as vredesgebaar laat aflewer. Somtyds het die gekoggel breekpunt bereik. Die speelse boodskappies het later vuurwarm geraak – veral wanneer die Visvoete verloor het. (Dink hy skuld my in elk geval nog ’n bakkie kerrie-en-rys na die Slag van Loftus drie weke gelede).
• Natuurlik is daar gereeld gevra: “Is dit jy wat Flopsport skryf?” So sit ons een middag by Amazon’s Restaurant. Langsaan is ’n tafel met 10 jong manne. Hulle praat en loer na ons tafel, praat en loer. Later staan een op en vra: “Skryf oom Flopsport?” Het toe maar bevestigend geantwoord. En hy antwoord: “Ek het vir hulle gesê oom skryf Flopsport, maar hulle sê oom kan dit nie skryf nie, want oom het nie ’n humorsin nie.” Ai!
• By Hoërskool Middelburg was daar een aand ’n geselligheid. Aan ons tafel was die week se Flopsport druk onder bespreking. Sê iemand: “Ek weet wie skryf Flopsport, dit is ’n ou wat by ons op die myn werk.”
• Die Floppe het jou oral agtervolg, selfs kerk toe. Gelukkig is dominee ’n Blou Bul. Saam in die gemeente is Soa, Laerskool Kanonkop se Soa. Soa is ’n groot Tjieta ondersteuner. Wanneer die Bulle teen die Tjietas verloor het, het Soa niks gesê nie, net so skewe glimlag gegee. Dit was nogal pynlik.’

• Die dag toe ons Tobie groet, het ’n groot groep fietsryers hom vanaf sy huis tot by die werk vergesel (tot groot ontsteltenis van die ander padgebruikers wat agter hulle ‘vasgesit’ het).
Dit was dieselfde fiets, ’n DAC resiesfiets, waarmee hy gejaag het na die Witbank Nuus se kantore vir sy onderhoud, twee dae voor hy sy laaste vak in matriek geskryf het.

• In Maart het ons vertel van Middelburg Rugbyklub se vlagman, vleuel en gelukbringer, Riaan Liebenberg.
Hy het alles oorkom om daar te kan wees, want buiten dat hy al drie jaar vir die tweedespan speel op die veld draf, weet min mense dat hy ook doof is!
Riaan het deel van die klub se gesin geword nadat sy ouer broer, Marius, as afrigter by die klub aangesluit het.
Sy verhaal het almal in ons gemeenskap se harte aangeraak.

• Met “Dis nag vir wetsgehoorsame inwoners met duisende straatligte wat nie werk nie,” word die straatligkrisis al in Maartmaand aangespreek.
Op daardie stadium is ligte wel vervang, maar net op hoofroetes.
“Daar is nie ’n enkele wyksraadslid wat nié maandeliks klagtes inhandig oor gebrekkige straatligte wat by wykskomiteevergaderings aangemeld word nie. Die probleem is ook hoogprioriteit op die munisipaliteit se nuutste geïntegreerde ontwikkelingsplan vir die volgende vyf jaar,” is gesê.
Ons is al by Kersfees en steeds kla inwoners steen en been oor straatligte wat nie werk nie.

• Inwoners wat die afgelope tyd gekla het dat hulle gereeld sonder water sit weens pype wat bars, sal onthou dat daar al in Maartmaand met pypvervangings begin is.

• Dan was daar ook die skokvoorblad waar dit duidelik geword het, dat Middelburg besig is om die huurmoord hoofstad van ons land te word!

Webtuiste

Letterlik duisende lesers het dié stories gelees wat op ons webtuiste geplaas is gedurende Maartmaand.

• Magteloos in ’n krokodil se kake moes Anthony Joubert veg vir lewe en dood.
Alhoewel hy ernstige beserings opgedoen het, is hy een van die gelukkiges wat ’n krokodilaanval oorleef het!

Lees ook: Nagmerries nadat krokodil man gryp

• En wie sal hierdie video vergeet wat voormalige De Voetpadkloof bestuurder, Koos Kleinsmith, geneem het van vyf hengelaars wat ’n walvis gered het!

Lees ook: Video: Vyf hengelaars help walvis by St Helenabaai in see in

• Alex Grobler, een van die beskuldigdes in die beweerde moordkomplot waar Danie Maritz in November 2023 vermoor en in ’n kattebak van ’n voertuig gelaai en aan die brand gesteek is, beweer hy word gedreig.

Lees ook: Beskuldigde in beweerde bagasiebak-moordkomplot word gedreig

Grobler het later hierdie jaar in ’n pleitooreenkoms met die staat skuldig gepleit en is vyf jaar tronk toe gestuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button