‘Help! Hy gaan sekerlik die skilpad eet!’ – boodskap op noodgroep
Inwoners is baie bekommerd oor ’n bergskilpad wat ’n man vir R400 wou verkwansel.
Inwoners is bang dat ’n man wat ’n skilpad rondgedra het en wou verkoop, dalk die skilpad nou al geëet het.
Daar is letterlik vir ure gesoek na die man en die skilpad na aanleiding van ’n boodskap gister op WhatsApp noodgroepe dat ’n man ’n bergskilpad wou verkoop.

Victor Boshoff en sy seun, Darren, van die Middelburg Herpetologiese Vereniging, het oral in Kanonkop rondgery om die man te probeer opspoor, aangesien dit onwettig is om in besit te wees van ’n skilpad en dit ook nie verkoop mag word nie.
Die WhatsApp-boodskap, wat oral rondgestuur is, het gesê dat ’n man met ’n rooi hemp, denimbroek en wit hoedjie, in Lilian Ngoyistraat oploop, naby die Kees Taljaard Stadion, met die skilpad en hom wil verkoop vir R400.
‘Help, hy gaan hom sekerlik eet!’
Daar is ook op die boodskape gesê: “Help asseblief! Anders gaan hy hom sekerlik eet!”
Dit is onwettig om enige inheemse diere, wat krimpvarkies en skilpaaie insluit, aan te hou.
Tydens ’n vorige onderhoud met Victor het hy dit duidelik gestel dat jy ’n skilpad se ‘doodsvonnis’ teken as jy hom aanhou, aangesien ’n skilpad wat eers in aanhouding was, nie weer losgelaat kan word nie. Sou jy betrap word met ’n skilpad in jou besit, kan jy ’n astronomiese boete opgelê word.
Lees ook: Jy ‘teken doodsvonnis’ vir skilpad as jy hom aanhou
In 2019 het die Herpetologiese Vereniging ’n bergskilpad van ’n gewisse dood gered nadat ’n vrou tienerseuns betrap het wat besig was om die skilpad lewendig oop te saag. Alhoewel die skilpad se lewe gered is, kon dit nooit weer in die natuur losgelaag word nie, weens die aard van die beserings.
Lees ook: Skilpad se lewe gered wat lewendig oopgesaag is
Drie jaar later het dié wyfieskilpad ’n operasie ondergaan by die Kanonkop Dierekliniek nadat haar bek skeef begin groei het en sy gesukkel het om te vreet.
Die Observer is toegelaat om die operasie by te woon.
Lees ook: Skewebek skilpad kan nou met glimlag knibbel
