KYK: Hekmotorbende steel nou links en regs hekmotors in Kanonkop
Die hekmotorbende het laasnag verskeie hekmotors gesteel in Kanonkop.
Die hekmotorbende se visier is ingestel op Kanonkop en daar is laasnag verskeie hekmotors gesteel in die boonste deel van dié uitbreiding.
Daar is vroeër vandag berig dat die groep toegeslaan het in die middernagtelike ure in Zebrastraat en kon op beeldmateriaal gesien word dat dit drie mans en moontlik ‘n vrou was.
Sedertdien het talle mense laat weet dat hul hekmotors ook gesteel is.
In Hibiscusstraat is een hekmotor gesteel en ‘n ander een net drie huise verder beskadig toe hulle waarskynlik gesteur is en weggehol het.
In Lilian Ngoyistraat is drie hekmotors gesteel. Volgens een van die slagoffers het die bende verlede week ook probeer om hul hekmotor te steel, maar die reaksielede van Mid Alarms het verbygery, waarna die diewe die hekmotor gelos en laat spaander het. “Vanoggend het hulle toe nou wragtig die hekmotor gesteel!”
Daar word verneem dat die hekmotordiewe laasnag ook in Oribistraat ‘n hekmotor probeer steel het.
Sedert Vrydag is daar verskeie hekmotors gesteel.
Mnr. Roelf Botha, wie se hekmotor Vrydag in die vroeë oggendure in Kremetartstraat gesteel is, meld dat die diewe moontlik ‘n toetstel het wat die alarm op sy hek buite aksie gestel het.
Die bende het die vorige Saterdag die hekmotor probeer steel, maar die alarm het afgegaan. “Hulle moes ‘n jammer gehad het, want Vrydagoggend het die alarm glad nie afgegaan nie en die krag het uitgeshort. Dit het my ‘n minuut gevat om die krag aan te sit en in daardie tyd is hulle weg met my hekmotor!”
Hy het ook ‘n video gestuur om te wys hoe hulle te werk gaan. Op die videomateriaal loop twee in die straat verby en bespied die omgewing. Hul derde makker beduie na die huis en klouter hulle dan oor die muur. Alhoewel ‘n mens nie duidelik kan sien wat hulle presies by die hekmotor doen nie, gebeur alles onder vier minute. (Die video se spoed is vinniger gestel).
@middelburgobserver Another video showing the gate-motor gang targeting Kanonkop. They wear balaclavas and steal a motor in under four minutes. Kanonkop, MiddelburgObserver, CrimeAlert, GateMotorGang, SafetyFirst, CommunityWatch
In al die gevalle het die bende tussen 01:15 en 02:30 toegeslaan en hulle was gewoonlik drie. Hulle dra klapmusse sodat hulle gesigte nie uitkenbaar is nie.

Daar word bespiegel of dit nie meer as een bende kan wees wat die afgelope bykans drie jaar so baie hekmotors steel nie. Met vorige diefstalle het die groep opgedaag in ‘n voertuig waar twee uitgespring en die derde verdagte in ‘n voertuig gewag het.
Met die afgelope week se diefstalle waar daar beeldmateriaal beskikbaar was, het hulle te voet gekom.
- Die Observer is besig om ‘n databasis saam te stel van al die hekmotordiefstalle sedert die begin van Januarie 2026. As jou hekmotor gesteel is in hierdie tyd, stuur jou naam en van, die adres waar die hekmotor gesteel is (en of dit die eerste keer is wat dit gesteel is) na 072 248 3855.
- Die bende wat watermeters steel is ook steeds bedrywig in Kanonkop en Dennesig. ‘n Watermeter is Sondagoggend in Melrosestraat (Dennesig) uitgeruk.
