Observer Daller

Huurder vertel oor nagmerries na huisbrand

’n Man herleef oor en oor die gebeure van ’n huisbrand waar ’n ander huurder sterf

’n Huurder wat in die grasdakhuis, op die hoek van Park- en Kortstraat in Groblersdal, gewoon het, het van die traumatiese gebeure vertel, waar die huis totaal in vlamme verswelg is en ’n ander huurder gesterf het.

Mnr. Philip Swart het vir bietjie meer as ’n maand in die huis gewoon, nadat hy na Groblersdal verhuis het, toe hy by Reflex Secure begin werk het. Hy vertel dat hy slegs twee dae ná die persoon, wat in die huis gesterf het, by ’n kamer in die grasdakhuis ingetrek het.
Sy kamer was op die tweede verdieping.

Die grasdakhuis het Saterdag, 12 Oktober om ongeveer 11:45 vlamgevat.

Die huis is totaal in vlamme verswelg en ’n huurder het gesterf. Foto: Leon Olckers.

Hoor hoe ander huurder skree

“Ek was in my kamer gewees en my deur was toe. Die volgende oomblik het ek ’n ander huurder hoor skree en my kamerdeur oopgemaak. Die hitte en rook van die brand het my dadelik getref en ek het gesien die huurder, wat geskree het, se kamer is in vlamme.”

Hy het omgedraai om terug te gaan na sy kamer toe, maar gesien dat sy kamer reeds met rook gevul is.

“Ek het op die grond neergeval, maar vinnig weer opgestaan om my hond en my skootrekenaar te gryp. Ek het gehardloop vir die trappe, wat toe reeds aan die brand was, maar ek kon nog daar uit. Ek het my hond in my voertuig gaan sit.”

Hy onthou dat daar nege huurders was, maar 12 mense was wat in die huis gewoon het. Daar was ook ’n besoeker in die huis toe die brand uitgebreek het.

’n Bejaarde huurder, wat in die kamer onder mnr. Swart gewoon het, het gelê en slaap, maar wakker geword toe mnr. Swart op die houtvloer neerval in sy kamer.

Die bejaarde huurder het dadelik besef daar is groot fout, aangesien hy reeds die rook van bo-af by sy kamer sien inrol het. Gelukkig kon hy vinnig by die huis uit vlug.

Die huis is vinnig in vlamme verswelg en die rook in die huis was oorweldigend. Foto: Leon Olckers.

Help huurders uit brandende huis uit

“Ek is nie seker wie of wanneer is daar gekontak vir hulp nie. Op daardie oomblik was ek te besig om soveel moontlik persone uit die huis te kry.”

Hy het teruggehardloop in die huis in om ’n ander huurder, wat in ’n rolstoel is, te gaan help. “Hy was in sy kamer wat op die grondvloer van die huis geleë was. Hy het op sy bed gelê en die rook en vlamme het van bo af reeds só erg gebrand, dat ek blasies op my rug gebrand het toe ek die huurder probeer help.
Ek het hom uit sy bed getrek, in sy rolstoel geplaas en hom by die brandende huis uitgestoot tot oorkant die teerpad.”

Nóg ’n huurder het van die tweede vloer af geskree. “Die huurder het in sy kamer geslaap, aangesien hy nagdiens gewerk het. Toe ek daar uit is, het die trappe reeds gebrand en hy kon nie uitkom nie. Daar was net nie tyd gewees nie.”

Hy meld dat daardie deel van die huis binne sekondes in vlamme verswelg is en die rook in die huis oorweldigend was.
“Die grasdak het erge rook afgegee en dit het my mond, longe en neus gebrand. Ek het die huurder hoor skree, ‘ek kan nie uitkom nie, ek kan nie uitkom nie!”

Mnr. Swart het teruggehardloop in die huis in, maar die trappe was totaal in vlamme gehul en reeds verwoes.

Met slagoffer gepraat tot laaste oomblikke

“Ek het weer uitgehardloop en aangehou om met hom praat. Hy het by sy kamervenster gestaan en ek het vir hom gesê om die diefwering te breek en by die venster uit te spring. Ek het begin om die klippe in die tuin onder sy venster weg te rol. Ek het aangehou praat. Kort daarna het hy twee keer geskree: ‘Ek brand! Ek brand!’ en daarna was dit stil.”

Volgens mnr. Swart het ’n groot hoeveelheid mense van die straat af en bure dadelik hand bygesit om te help.

Die helde

“Daar was jong mans, wat onbekend is aan my, wat helde was. Hulle het dadelik oor die muur gespring en gasbottels ontkoppel en weggesleep van die huis af. Nóg ’n paar jong mans het die honde wat in die erf was, oor die muur gelig en na veiligheid geneem. Hulle was regtig helde!”

Wat vir mnr. Swart na ’n lang tydperk gevoel het, maar met die brand wat ook in sekondes die huis in vlamme verswelg het, het die eerste vuurvegterwaentjie van Gunmar by die toneel op gedaag.

“Die huis was reeds totaal in vlamme, almal was reeds uit die huis bevry, behalwe vir die oorledene. Die dak was ook reeds totaal afgebrand voor die brandweer op die toneel opgedaag het. Persone wat die brandweer gekontak het, kon nie deurkom na hul toe nie, waarna ’n werknemer van JQ Spares na die brandweerstasie gery het om die brandweer te gaan haal, voor hul by die toneel opgedaag het.”

Mnr. Swart vertel dat hul as huurders nie iets kon doen om die brand te blus nie, aangesien die nodige toerusting nie beskikbaar was om die brand te probeer blus nie.

Brandweermanne besig om die vuur te probeer blus. Foto: Verskaf.

Nagmerries na die gebeure

“Ons as huurders lei aan baie trauma na hierdie gebeure. ’n Bejaarde man, wat tans saam met my woon, kan nie aan die slaap raak nie. My hond het ook al uit my bed geklim om teen hierdie oom te gaan lê en slaap omdat hierdie oom só erg nagmerries kry. Meeste van die huurders kry nagmerries en sukkel om te slaap. Ons is almal getraumatiseer.”

Mnr. Swart was voorheen in die polisie gewees en sê dat hy wat self by verskeie tonele was waar hy persone uit brandende voertuie, wrakke en skietvoorvalle moes bevry, maar nog nooit só magteloos gevoel het nie.

Volgens hom kry hy nagmerries en slaap skaars.

“Ek het baie vrae en dink baie aan die gebeure. As dit nie was vir die huurder wat geskree het nie. As dit 30 sekondes later was, wat ek die brand opgemerk het, was ek en my hond altwee dood. As ek en my hond dood was, sou die huurder onder my ook dood gewees het, want hy het wakker geword, nadat ek op die grond neergeval het.”

Hy sê dit pla hom geweldig baie.

“As daardie huurder wat geskree het nie daar was nie, het daar beslis meer as een persoon gesterf in die brand. Elke huurder het sy eie storie om te vertel, maar die feit bly staan dat ons almal baie getraumatiseer is. Niemand van die huurders wat daar gewoon het, verdien groot salarisse nie. Ons het almal alles verloor. Al ons besittings. Die bejaardes sal nie in hul leeftyd weer kan opbou wat hul verloor het in dié brand nie.”

Wil graag vir Snowy terug hê

• Daar was ’n wit pit bulterriër, Snowy, op die erf gewees. Mnr. Swart het haar gered en saam met hom geneem, maar moes ongelukkig die Loskop Vallei Dierefonds kontak, aangesien hy en die eienaar nie vir Snowy kon hou waar hul nou tydelik woon nie.

Intussen is die hond moontlik aangeneem. Mnr. Swart doen ’n beroep op die persoon wat die hond aangeneem het, om hom te kontak. “Hierdie moes net tydelik gewees het tot ons, ons voete kon vind. Ek vra dat die persoon wat Snowy het, ons genadig sal wees, want ons wil haar baie graag terughê.”

• Mnr. Swart bedank ook JQ Spares se mense, Johan en Quinten, Robin, AGS se barmhartigheid, persone agter die skerms, Natalie Grobler (Vallei Dierefonds), Clint Cox (RNC Automotive), kapt. Piet Roux wat die toneel en met professionaliteit hanteer het, asook Joe Bondesio (PG Glass Groblersdal).

• Die oorledene wat in die brand gesterf het, is bekend aan die huurders en sy familie, maar aangesien daar gewag word op die finale DNS-analise rondom die oorledene se identiteit, word sy naam en van weerhou.

•Die Observer Daller het ook navraag gedoen by Lemson Moropyane die Sekhukhune Distriksmunisipaliteit se woordvoerder vir kommentaar rakende die brandweer wat nie dadelik in die hande gekry kon word nie. Geen terugvoer is tot op hede ontvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button