Observer Daller

Groblersdaller publiseer eerste boek

Groblersdaller, Corné Scholtz, publiseer haar eerste boek, ‘Edinia: My Journey Begins’, deur uitgewers NS Skrywershuis.

Corné Scholtz (51) se debuut fantasie-roman, ‘Edinia: My Journey Begins’, is nou op die rakke beskikbaar en het reeds fantastiese resensies ontvang.

Dié resensies kan op haar Facebookblad, Corné Scholtz Author, gelees word.

’n Warm gevoel van trots vul inwoners wanneer een van die Vallei se eie groot suksesse behaal, veral as dit só groot is soos hul boek wat deur ’n bekende uitgewer in Suid-Afrika aanvaar en bemark word.

Corné Scholtz. Foto: Verskaf.

Corné se kleintyd

Corné is in Mokopane gebore en het op ’n plaas buite dié dorp grootgeword. Toe sy in graad 2 was, het haar ouers na Marble Hall verhuis, waar sy haar laerskoolloopbaan by Laerskool Marble Hall voltooi het en later in 1991 gematrikuleer het uit Hoërskool Ben Viljoen.

Ná skool het sy Besigheidstudies en Sakebestuur studeer by Polokwane se Tegniese Kollege.

Getroude lewe en kinders

Corné en haar man, Marius Scholtz, is byna 31 jaar getroud. Hy is ook ’n Vallei-boorling en het aan Hoërskool Ben Viljoen gematrikuleer. Hul het mekaar weer raakgeloop in Polokwane en dit is hoe hul fairy tale begin het.

Hul is in 1994 in Marble Hall getroud en vyf kinders is uit hul huwelik gebore.

Die paartjie het ’n paar jaar in Ermelo gewoon en later in Mosambiek, maar is weer vir die laaste sewe jaar terug in Groblersdal.

Corné Scholtz en haar man, Marius Scholtz.

Corné se beroep

Kort nadat Corné en haar gesin vanaf Mosambiek verhuis het, het sy ’n aantal beroepe uitgetoets, maar in 2022 begin as eiendomsagent en dit baie geniet. Sy werk tans as eiendomsagent vir Property Pro onder die hoofmaatskappy, Bold Real Estate.

Haar tweede jongste, Edihan, het in 2021 by Hoërskool Ben Viljoen gematrikuleer, en die laatlam, Kay-lee is tans ’n graad 6-leerling in Laerskool Julian Muller.

Passie vir lees en skryf

Corné vertel dat haar passie en liefde vir skryf ontstaan het as gevolg van haar ma wat ’n kranige leser was.

“Ek het op ’n plaas grootgeword, ver van die dorp af. Jy moes jouself maar besig hou en lees was een van die maniere om dit te doen. My ma het altyd gesorg dat daar boeke is om te lees en ons altyd biblioteek toe gevat. Soos ek sê, lees ek my hele lewe lank verskriklik baie en het nog altyd ’n voorkeer vir fantasie gehad,” sê Corné.

“Skrywers se verbeelding en die gawe om jou na ’n ander wêreld te neem het my nog altyd gefassineer. Ek het net op ’n dag besluit ek het stories in my kop, wat ek graag op papier wil sit. Eers was dit net soos ’n stokperdjie en ek het geskryf wanneer ek tyd het, ek het steeds nie tyd nie, maar probeer om so veel as moontlik tyd te maak vir skryf. Stories was nog altyd deel van my lewe. Ek en Marius was vir amper 20 jaar in die koerantbedryf en daar kon ek maklik my skryfpassie uitleef.”

Die begin van ‘Edinia: My Journey Begins’

Sy het reeds etlike jare gelede begin skryf aan dié boek, maar dit hierdie jaar eers voltooi.

“Fantasie het my nog altyd gefassineer en die boeke wat ek gelees het, handel baie oor die selfde karakters net in ’n ander storielyn. Ek skryf toe die boek wat ek graag sou wou lees en dit het feetjies en pixies en alle fantasie karakters in wat my fassineer. Ek wou ’n boek skryf wat nie so way out vreemd is, dat mense dit nie kon verstaan nie en ek wou die menslike faktor behou.”

Sy vertel dat sy een aand gesit en begin tik het. “Ek het hierdie drukkende behoefte gehad om die storie uit te kry. Dit was heerlik om die boek uiteindelik uit my kop te kry – die misterie en intriges – om alles by mekaar te bring, alle vrae te beantwoord en die hele plot uit te lê, was absoluut ’n avontuur en ek kan nie wag om die tweede boek klaar te maak nie.”

Corné Scholtz met haar boek, Edinia: My Journey Begins. Foto: Verskaf.

Die publiseer van haar eerste boek

Corné het haar boek eers self-publiseer deur ’n privaat uitgewer, waarna sy die voorreg gehad het dat haar boek aanvaar is deur NS Skrywershuis, ’n bekende ‘Vanity Publisher’ in Suid-Afrika. Haar boeke word dan nou deur hulle bemark en ook in harde kopie uitgegee.

“Dis vreeslik moeilik vir onbekende en nuwe skrywers om in die mark te kom – dis waarom daar duisende Indie-skrywers is wat eers self publiseer en dan op dié manier ’n following/fan base opbou – eers dan sal die groot skrywershuise na jou begin kyk. Dis ’n lang en duur proses, maar die moeite werd, sodra jy jou eerste boek vashou.”

Corné sê sy ‘was soos ’n kind met ’n nuwe speelding’ toe die realiteit haar tref dat haar eerste boek verkoop is en haar boek op die rakke beskikbaar is.

“Ek was so opgewonde en my wonderlike man het my die aand uitgevat vir ’n ete om die groot dag te vier. Ek het tot foto’s van die oomblik toe ek die pakkie oopmaak en my boek vir die eerste keer in my hande hou – dit was magical! Ek voel geseënd en bevoorreg om dit te kon doen en ek moet alle eer aan ons Hemelse Vader gee vir die krag en geduld wat ons gegee is om die projek aan te pak en klaar te maak.”

Waar om ‘Edinia: My Journey Begins’ te kry

Die boek is beskikbaar op haar Facebookblad onder ‘Corné Scholtz Author’, as ’n Kindle-boek op Amazon en NS Skrywershuis se webtuiste.

Persone wat graag meer wil weet, of ’n proef stukkie wil lees van haar boek, kan op Amazon die eerste drie hoofstukke gratis gaan lees, om bietjie meer insig oor die boek en skryfstyl te sien. Daar is ook ’n kaart van Edinia beskikbaar.

Waaroor handel ‘Edinia: My Journey Begins’?

Die boek is in Oktober vanjaar bekendgestel en is gemik op alle fantasieliefhebbers. Dit is ’n epiese fantasie wat alle sintuie en emosies in een boek kombineer. ’n Boek vir oud en jonk wat hul verbeelding op ’n reis wil neem na ’n ander wêreld.

Dié boek behels karakters met vurige persoonlikhede, ’n onwillige fee en die toekomstige koningin van Edinia – weggeskeur van alles wat sy ken en liefhet. Sy staar innerlike gevegte in die gesig, maar verloor nooit hoop nie.

Vooruitsigte

Corné sê haar vooruitsigte vir haar boek, los sy in die Here se hande. “Ek is trots op my harde werk – ek het jare se bloed en sweet ingesit, maar die res los ek vir Hom.”

Volgens Corné is haar man ook haar grootste ondersteuner. “Marius is die een wat my vir naweke weggevat het om stilte te hê om die boek klaar te maak of te proeflees. Hy het kos gemaak en kinders versorg, terwyl ek voor die rekenaar sit en werk. Hy kry 100% erkenning as my grootste ondersteuner en aanmoediger. Hy glo in my talent en my vermoëns en ek dank Ons Vader elke dag vir hom in my lewe.”

Corné sê haar eie vooruitsigte is om teen volgende jaar haar opvolgboek: ‘Edinia: The Magic Returns’ op die rakke te hê. “Maar ek het so baie stories in my kop, dat ek sommer besig is met ’n Christelike boek ook – maar hy is heel in die beginfase van die skryfproses.”

Die opvolg

‘Edinia: The Magic Returns is so 70% klaar geskryf en sal dan na die proeflesers toe gaan voor sy dit hopelik einde volgende jaar kan publiseer.

Raad aan die Valleiers

Haar raad aan ander Valleiers wat graag wil skryf of ’n boek wil publiseer, is: “Jong, ek is eintlik die verkeerde een om die vraag te vra – ek is haastig van geaardheid en kan ongeduldig wees as ek iets wil aanpak en klaarmaak. As ek dit moet oordoen, sal my raad aan nuwe skrywers wees om te begin deur ’n databasis op te stel van elke karakter, beplan jou boek en karakter sorgvuldig, elkeen se unieke persoonlikheid en maniertjies.”

Sy sê die skrywer moet die boek ’n paar keer self deurlees en regmaak totdat hy/sy tevrede is dat dit is wat hulle wil uitgee.

“Ek het my boek vir ’n paar familielede en vriende gegee om te lees en hulle terugvoering en soms kritiek toegepas en die boek reggemaak waar daar byvoorbeeld nie ’n vraag beantwoord is nie of iets vreemd klink of die scene nie sin maak nie. Onthou, jy as skrywer sien alles in jou kop en dit maak vir jou sin, want jy weet wat in elke karakter se kop en lewe aangaan – jou leser weet dit nie – jy moet jou storie so skryf dat jy beskrywend genoeg is dat jou leser dit ook sien sonder dat jy die heeltyd moet vertel. As jy gaan nalees oor skrywers en hulle tips is dit altyd reël nommer een: Show, don’t tell.”

As Afrikaanssprekende persoon om ’n Engelse boek te skryf, kompliseer dit ook. “Die taalverskille was maar ’n issue. Na dit kry dan ’n baie goeie proefleser om die boek deur te lees en die foute en taalversorging reg te maak. Dis ’n lang en uitgerekte proses – bly positief en doen dit, kry jou storie uit, al skryf jy net vir jouself.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button