Video: Yslike krokodil op sportveld!
’n Reuse krokodil is op Hoërskool Ben Viljoen se hokkieveld gevang!

Die hoof van Hoërskool Ben Viljoen was gisteraand op die rug van ’n massiewe krokodil op Hoërskool Ben Viljoen se hokkievelde!
Mnr. John Smith (hoof) was een van die mense wat gisteraand hand bygesit het om die yslike wyfiekrokodil te vang.
Die krokodil het vir groot opwinding gesorg toe sy op die skool se hokkieveld gewaar is.

’n Sekuriteitswag van Gunmar wat sy roetine rondtes op die skoolterrein gedoen het, het omstreeks 20:30 gisteraand die krokodil op die sportterrein sien loop.
Die wag het dadelik vir bystand gebel.
Niemand het verwag dat die krokodil só groot sou wees, tot hulle haar in lewende lywe gesien het nie.
Die krokodil het rustig op die A-hokkieveld rondgeloop en elke af en toe gaan lê.
Daar word vermoed dat die krokodil moontlik deur middel van die kanaal, wat deur die skool vloei, op die skoolterrein beland het.
Gunmar se personeel het dadelik vir mnr. Hannes Botha gekontak. Hy is ’n herpetofauna-wetenskaplike by Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap (MTPA), lid van die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN), en die Spesie-oorlewingskommissie (SSC) Krokodilspesialisgroep.
Kort voor lank het mnr. Botha, en mnr. Smith, ander personeellede van die skool en nóg personeel van Gunmar, by die sportveld opgedaag om hand by te sit.
Mnr. Botha het vinnig instruksies gegee oor hoe almal kan saamwerk om die krokodil te vang. ’n Paar mense was in beheer van die flitsligte, en die fris manne is gevra om gereed te staan om die kabel vas te hou wat om die krokodil se bek gehaak sou word.

Mnr. Botha het nader aan die krokodil beweeg, sodat die kabel om die krokodil se bek kan haak. Eers het die krokodil sowat twee keer hard haar kake toegeklap. Die klank het weergalm in die stilte van die nag, én die situasie ernstiger gemaak.
Nadat die kabel deur mnr. Botha om die krokodil gehaak is, het die sterk manne die kabel vasgehou. Hulle moes klou vir ’n vale, terwyl die krokodil ’n paar keer die bekende “doodsrol” probeer het om los te kom.
Lede van Gunmar, asook mnr. Smith het vinnig bo-op die krokodil gespring om dit vas te pen op die grond.
Mnr. Botha het blitsig te werk begin gaan om die krokodil se bek met band toe te plak, waarna die voor- en agterpote met tou vasgemaak is.
Nadat talle foto’ geneem is, het mnr. Botha die krokodil ondersoek en gevind dat dit ’n wyfie is en dat sy ’n skrikwekkende 3.57m lank is.
Hy het weer instruksies gegee aan al die manne oor hoe hul te werk gaan gaan om die krokodil op te lig en op sy bakkie te tel. Hy het selfs gespot en gesê dat die ‘manne te veel vrae vra en net moet doen.’

Dit het 10 manne geneem om die krokodil op te tel en vinnig op die bakkie te laai. Ongelukkig, was sy só groot dat sy nie op die bakkie se bakwerk gepas het nie, waarna daar vinnig planne gemaak is vir ’n groter lading. Sy is wéér oorgelaai na ’n groter bakkie, waarna mnr. Botha en personeel van Gunmar die krokodil by die rivier langs die N11 (Middelburgpad) buite Groblersdal vrygelaat het.
• Daar het vanoggend groot opwinding onder al die skoolkinders geheers toe hul uitvind van die krokodil wat gisteraand op hul sportveld gevind is.
@middelburgobserver Huge Crocodile makes its way onto the school grounds at Hoërskool Ben Viljoen