Video: Verf in kanaal laat almal ‘rooi’ sien
Die Herefordkanaal het almal laat rooi sien, toe dit gelyk het soos die Rooisee wat verby gedryf het.
’n Strook rooi verf het Vrydag in die kanaal afgedryf.
Die Daller het al talle kere berig oor rioolstorting en die taxi-wassery wat die kanaal besoedel in Kanaallaan. Daar is selfs al berig oor ’n begrafnisondernemer wat hul toerusting in die kanaal gewas het.
Al die voorvalle is gerapporteer deur verskeie persone, maar stééds word daar niks gedoen nie.
Mnr. Willie Oosthuizen, wykraadslid, vertel dat hy verlede Vrydag ’n oproep van ’n bekommerde inwoner ontvang het wat ’n bloedrooi strook in die kanaal gesien het. Hy het dadelik ondersoek gaan instel en die taxibestuurder én die taxiwasser daar gekry.
Rooi verf het in taxi omgeval
’n Emmer met 25 liter rooi verf het moontlik in ’n taxi omgeval en is die taxi na die kanaal gevat om gewas te word. Die verf het die pad besmeer, asook ’n rooi strook in die kanaal gelaat, met bolle seepwater wat gevolg het.
Mnr. Oosthuizen het hulle ingelig dat dit onwettig is om die taxi daar te was.
“Hulle het verskoning gevra en gesê dat hulle mos nou wel verskoning gevra het en wat meer verwag ek nou van hulle. Hulle het nie opgehou die taxi was nie, en ook nie die taxi verwyder nie. Ek is later gevloek en geskel.”

Niemand antwoord nie
Mnr. Oosthuizen het verskeie persone probeer kontak om die probleem te rapporteer, insluitend die munisipaliteite, verkeersdepartement en die Hereford Besproeiingsraad, maar hy sê niemand het geantwoord nie.
“Ek as wykraadslid het eintlik geen gesag of mag om iets rakende die situasie te doen nie, maar dit is hoog op my prioriteitslys van probleme wat aangespreek en uitgesorteer moet word.”
Padwet word ook oortree
Hy sê vir buiten die waterbesoedeling, word die nasionale padwet ook oortree, aangesien die wet duidelik is daaroor dat geen voertuie op of langs ’n publieke pad mag staan nie, wat nog van daar staan om voertuie te was. “Daar mag slegs langs of in die pad gestop word, in noodgevalle!”
Hy wil graag hande vat met die Hereford Besproeiingsraad om druk toe te pas op die munisipaliteite, sodat omheinings of enige ander plan beraam kan word om die besoedeling stop te sit.
‘Voel vere vir klagtes’
Mnr. Ge Benade, Hereford Besproeiingsraad kanaalbestuurder, het voorheen aan die Daller gesê dat geen van hierdie gedrag toegelaat mag word by die kanaal nie, ‘maar dat die munisipaliteite vere voel vir klagtes wat gerapporteer word.’
Hy het beaam dat daar al verskeie klagtes ingedien is by die munisipaliteit, maar niks gedoen word nie.
Clear View is al wat gaan werk
Hulle sou graag die Herefordkanaal wil omhein, maar lemmetjiesdraad kan nie gebruik word nie, omdat baie kinders in die omgewing stap.
Gewone draad gaan maklik geknip word en palissades word maklik gesteel.
“Ons enigste uitweg is Clear View-omheinings. Ons het reeds kwotasies aangevra, maar dit is ’n astronomiese uitgawe wat aangegaan sal moet word,” het mnr. Benade gesê.
Algemene gesig dat taxi’s uit kanaal gewas word
Volgens mnr. Oosthuizen is dit al ’n algemene gesig dat taxi’s uit die Herefordkanaal gewas word. Selfs die padversperrings word afgebreek, sodat daar makliker toegang tot die kanaal gekry kan word om voertuie te was.
• Inwoners se klagtes val ook op dowe ore.
Die water wat afvloei in die kanaal, word gebruik vir besproeiing en kan ’n mens net dink wat die langtermyngevolge kan wees.
@die.daller
