Liefde vir natuur kweek passie vir fotografie
Marli Muller se liefde vir die natuur het haar passie gekweek vir fotografie.
Marli Muller (15), ’n graad 9 leerling van Hoërskool Ben Viljoen, is aangewys as fotograaf van die jaar tydens dié skool se jaarlikse prysuitdeling.
Sy en Ellené van der Westhuyzen deel hierdie gesogte toekenning.
Lees meer: Ellené kán foto’s neem!
Volgens Marli het haar liefde wat sy het vir die natuur, en ook om al die natuur se beeldskone fases van die lewe deur ’n lens te kan sien, haar passie vir fotografie gekweek.
Sy het op die ouderdom van 13 jaar oud begin om foto’s te neem en hierdie jaar ook ernstig haar passie begin uitleef op die netbalbaan deur aksie foto’s te neem.
Vir Marli is dit die lekkerste om foto’s te neem want dit skep ’n rustigheid. “Dit laat my besef dat ek die klein dingetjies moet waardeer.”
Dit is vir haar veral lekker om foto’s te neem van diere in hul natuurlik omgewing, asook die netbaldogters wat hard stoei op die baan.

Sy beoog om volgende jaar by Hoërskool Ben Viljoen se atletiekbyeenkomste, tussen haar deelname aan items, ook foto’s te neem. “Ek sal ook graag meer by die hokkie betrokke wil wees met foto’s.”
Marli sê haar dryfkrag om foto’s te neem is definitief die vriende wat sy gemaak het, wat ook haar passie vir fotografie deel. “Hulle is altyd aanmoedigend, ondersteunend en behulpsaam.”
Hoërskool Ben Viljoen is vir Marli ’n aanwins tot haar passie vir fotografie. “Die skool gee vir my die geleenthede om foto’s te kan neem en om my stokperdjie te kan uitleef.”
Marli se grootste droom is om eendag haar eie plaas te besit, waar sy elke oomblik wat sy kan kry, foto’s kan neem van die natuur.
Sy beoog om in ’n mediese rigting te studeer, of die produksie van plante en diere.
Alhoewel haar keuse vir studie nie fotografie insluit nie, beoog sy om oor naweek haar stokperdjie tenvolle uit te leef.
Haar liefde vir fotografie word grootliks ondersteun deur haar familie en vriende. “Hulle spandeer baie tyd saam met my langs die netbalbaan, sodat ek die perfekte aksie foto kan kry.”
Marli se leuse is: “As ek nie ’n foto daarvan het nie, het dit nie gebeur nie.”

