R2 miljard dwelmfabriek: Bewaringsbevel toegestaan op ‘dwelmplaas’
’n Bewaringsbevel is toegestaan ten opsigte van die ‘dwelfabriekplaas’ buite Groblersdal.
Die vyf beskuldigdes in die dwelmfabrieksaak het vandag in die Groblersdal-landdroshof verskyn.
Die saak is uitgestel vir borgaansoek vir die Meksikaners.
Daar is ook ’n bewaringsbevel toegestaan deur die hooggeregshof van Polokwane op die plaas buite Groblersdal, waar die Valke vroeër vanjaar ’n vermeende dwelmfabriek oopgevlek het.
Jorge Humberzo Gonzalez, Alejandro Gutierrez Lopez, Roelof Frederik Botha, Simphiwe Melvin Khumalo en Ruben Vidal Rodriguez is op 19 Julie gearresteer.
Tydens die klopjag op die plaas in Julie, is daar beslag gelê op 408.95kg kristalmetamfetamien. Volgens die Valke is die totale waarde van die dwelmfabriek sowat R2 miljard.
Die doel van die bewaringsbevel, wat op 21 November toegestaan is, is om te verhoed dat enigiets van die plaas verwyder word of die grond verkoop word hangende die hofsaak.
Die bewaringsbevel sluit in die plaas, Thaba e Monate, 201 Loskop Suid en ’n grys Isuzu voertuig, wat glo gebruik is vir die beweerde dwelmhandel- en vervaardiging.
Hierdie bevel volg op die borgtogaansoek van Botha, mede-eienaar van die plaas, asook Khumalo.
Botha en Khumalo se borgtog is deur die Groblersdal-landdroshof geweier in September, terwyl die Meksikaners borg laat vaar het.
Tydens Botha en Khumalo se vorige verskyning in die Groblersdal-landdroshof op 15 November, het hul regsverteenwoordiging aangevoer dat daar nuwe bewyse is wat hul aan die hof wil voorhou om weer aansoek te doen om borgtog.
Daar is egter vandag in die hof aangedui dat Botha en Khumalo hul borgaansoek sal laat vaar, terwyl die Meksikaners wil aansoek doen vir borg. Die saak is uitgestel na 22 Januarie 2025.
- Botha en Khumalo sal na bewering ook vir borg appelleer by die Polokwane-hooggeregshof.
Lees ook: R2 miljard dwelmfabriek: geen borg!
