Veiligheidswenke vir die vakansietyd
Loskop Alarms is áltyd beskikbaar en kan die publiek gerus ’n rustige breek geniet.
Die Loskop Alarms-span staan reg om te reageer in geval van nood.
Hulle sê dit is egter altyd goed om toepaslike voorsorg te neem om die risiko’s te verminder. Onthou ook dat daar waar jy vakansie gaan hou, mag dalk nie so veilig wees soos in die Dal nie.
Voor die vertrek
• Toets die alarmstelsel vroegtydig voor jy vertrek en sorg dat dit in ’n werkende toestand is. Maak seker die battery is nog sterk genoeg om die stelsel aan die gang te hou sou iemand met die krag peuter.
• Verseker dat daar na jou troeteldiere omgesien sal word. Hulle sien heel jaar na jou om.
• Indien jy die diens van ’n ‘opsigter’ gebruik, verseker dat die persoon die werking van die alarmstelsel verstaan en doen agtergrondnavrae om seker te wees dat die persoon betroubaar is.
• Onthou om die kontakbesonderhede van die sleutelhouer(s) by jou sekuriteitsverskaffer op te dateer.
• Verseker dat alle waardevolle artikels behoorlik beveilig is.
• Maak seker dat alle vensters en deure behoorlik toegemaak en gesluit is.
• Waak daarteen dat ligte bedags aangeskakel bly. Gebruik liewers tydreëlaars om geselekteerde ligte op die perseel aan en af te skakel.
• Reël dat die tuin en buite areas versorg word, sodat dit nie ooglopend is dat bewoners nie tuis is nie.
• Gaan alle elektriese aansluitingspunte na om kortsluitings te voorkom en kyk ook vir waterlekkasies.
• Verseker dat alle elektriese toestelle afgeskakel en ontkoppel is. Skakel ook die water verwarmingstelsel af. Hierdeur word nie net elektrisiteit bespaar nie, maar ook moontlike skade as gevolg van weerlig en kragonderbrekings wat voorkom.
• Betaal uitstaande rekeninge vir belangrike dienste soos munisipale water en elektrisiteit.
• Wees diskreet in die voorbereiding van jou vertrek. Laai die voertuig byvoorbeeld in die motorhuis of waar dit nie van die straat af sigbaar is nie.
• Hou jou bure ingelig betreffende jou vertrektyd en beraamde tyd van terugkeer, en verseker dat hulle in besit is van jou kontakbesonderhede.
• Beplan jou roete en verseker dat jou voertuig, sleepwa of karavaan diensbaar en padwaardig is.
• In die geval van oorsese reise, maak gesertifiseerde afskrifte van jou paspoort en ander belangrike dokumente, soos byvoorbeeld kredietkaarte, en bewaar veilig, nie saam met oorspronklike dokumente nie.
By die lughawe
• Hou bagasie waar dit sigbaar is. Moet nie mense toelaat om aan jou bagasie te peuter nie. Moet nie waardevolle items in ingeboekte bagasie plaas nie en verseker dat bagasie gesluit is.
• Wees versigtig wanneer jy betaal met ’n kaart op vakansie of met aankope in die stede. Kaartklonings is algemeen.
• Moet nie duur juweliersware sigbaar dra nie. ‘Spotters’ gebruik dit om slagoffers te kies vir agtervolging en roof.
• Indien jy onveilig voel met mense om jou, gaan na die naaste sekuriteitswag of -kantoor.
• Wees versigtig dat “Maps” of “Waze” jou nie deur gevaarlike areas lei nie. Hierdie Toeps kyk net vir die kortste roete wat in Suid-Afrika deur gevaarlike areas kan gaan. Dit is veral ’n probleem in en om Kaapstad.
• Moet nie jou selfoon openlik ronddra of gebruik nie. Rowers gryp dit maklik en verdwyn baie vinnig. Stappers en hardlopers word veral geteiken wanneer hulle na musiek luister deur oorfone.
In die natuur
• Dit is wonderlik om nuwe plekke te verken en dinge deur ander oë te sien, maar wees bewus daarvan dat die onbekende jou kwesbaar kan maak om verlore te raak of dalk ’n slegte oordeel te maak.
Onbekende gebiede en roetes kan ook geneig wees tot vinnig veranderende weer of terrein, en baie natuurplekke het ook nie goeie selfoonopvangs nie.
• Moet nooit alleen stap nie; ’n groep is veiliger.
• Vertel altyd vir iemand waarheen jy gaan en hoe laat jy verwag om terug te wees. Stuur ’n pin-ligging as jy kan.
• Hou ten minste een volgelaaide selfoon by jou en doen vooraf navraag oor ontvangs in die area. Stoor noodnommers.
• Dra ’n goedgevulde noodhulptassie en wees bewus van enigiemand in die groep met ’n mediese toestand of allergie.
• Beplan jou roete en hou by aangewese paadjies om te verhoed dat jy verdwaal. Laat genoeg tyd toe om die staptog te voltooi voor dit donker word. As jy in daglig sukkel, sal dinge baie erger word as jy ook die lig verloor.
• Moenie risiko’s of kortpaaie neem nie en respekteer altyd beperkte gebiede – daar is ’n goeie rede waarom die bord ‘geen toegang’ sê.
• Wees versigtig vir almal wat jy teëkom, veral verdagte ‘stappers’ wat nie stapklere aanhet of ’n rugsak dra nie. As jy deur rowers gekonfronteer word, gee jou goed sonder weerstand oor. Die persoon kan met ’n mes of vuurwapen gewapen wees en jou selfoon of stapstewels is nie jou lewe werd nie.
• Pak genoeg water en verversings in.
• Trek gepas aan. Pak ’n warm baadjie in, maak nie saak wat die weer is nie. Die weer kan vinnig verander op staproetes, veral by die kus.
• Wees versigtig waar jy swem en gehoorsaam instruksies van lewensredders. Hulle is vertroud met plaaslike omstandighede en bewus van gevaarlike strome en haaigevaar.
