Ben Viljoen groet drie personeellede
Hoërskool Ben Viljoen neem afskeid van drie personeellede.
Daar is pas afskeid geneem van me. Esta Booysen, me. Marelize Wessels en mnr. Arno Wessels.
• Me. Booysen het in Januarie 2024 by die Ben Viljoen-familie aangesluit. Die skool groet haar met die mooiste herinneringe in hul hart en bedank haar vir haar harde werk, toewyding en dat sy meer gedoen het as net om die leerlinge akademies te ontwikkel.

• As oud-leerder van Hoërskool Ben Viljoen, sluit me. Wessels in Januarie 2020 by haar alma mater aan, en met haar helpende hand en saggeaarde hart speel sy vinnig ’n groot rol in beide die leerders en kollegas se lewens.
Sy was nie net betrokke by die Interhoër dirigente nie, maar ook by die afrigting van een van die dogtershokkiespanne.
Die Mnr. en Mej. Ben Viljoen kompetisie was onder haar leiding ’n reuse sukses.
In die RTT-klas bereik sy hoë hoogtes waar sy gedurende 2024 die Sekhukhune-Suid toekenning verwerf as die beste RTT-onderwyseres in die distrik gebaseer op 2023 se matriekuitslae.
Na ’n reis met baie opdraendes, afdraendes en menige goeie ‘onthou-jy-nog’ oomblikke, groet die skool me. Wessels met ’n traan in die oog.
“Ons weet jou hart klop groen en goud, waar ook al jou voete hulself mag vind. Ons wens jou uit ons harte dat daar vir jou die mooiste mores vol glimlagte op die pad sal wag en dat God se genade lig op jou pad vorentoe sal skyn,” het die skool op hul Facebook-blad geskryf.

• In November 2019, sluit mnr. Wessels by Hoërskool Ben Viljoen aan as die rugbydirekteur, en vind vinnig sy voete deur die Dallers touwys te maak op die sportveld – nie net as rugby-afrigter nie, maar ook as hoogspringafrigter.
Vanjaar was mnr. Wessels saam met twee ander onderwysers betrokke by die o/14 rugbyspan, en onder hulle leiding wen dié span vanjaar die NWU-16 reeks, die Limpopo rugbyfinaal en vorder tot die semifinaal van die SDC Noordvaalbeker.
Mnr. Wessels het ’n groot impak op baie se lewens by die skool gemaak, of dit nou in die klas was of langs die sportveld. Eenmaal ’n Daller, altyd ’n Daller!
Die skool wens vir mnr. Wessels ’n geseënde pad vorentoe.
